MOSSELBAAI NUUS - Sedert die Mossel Bay Advertiser in Augustus oor die beplande oprigting van 'n observasiewiel by die Punt berig het, het die gemeenskap gemobiliseer om hul opinie hieroor te lug.
Hoewel dit blyk asof lede van die gemeenskap nie soseer teen die konsep gekant is nie, kry die Punt as die voorgestelde ligging vir die 42 meter hoë konstruksie, die wind van voor.
Vroeër vandeesmaand het die Sunday Times ook oor die struktuur berig in 'n artikel waarna hulle verwys na dié plan as soortgelyk aan 'n Gekkedaggrap.
Intussen het Erfenis Mosselbaai 'n sterk pleidooi gelewer vir die bewaring van die Punt se unieke karakter, sonder die observasiewiel.
Volgens Erfenis Mosselbaai sal die oprigting van 'n observasiewiel die erfeniskarakter van die Punt nog verder versteur as wat reeds die geval is. Die vereniging sê in 'n verklaring dat die Punt sedert die 1880's 'n groot trekpleister is, nie net vir geslagte van Mosselbaaiers nie, maar ook besoekers van regoor Suid-Afrika en die wêreld, wat die getypoel en natuurskoon van die gebied geniet.
"Die Punt is egter gaandeweg, en met min gevoel vir die erfeniswaarde en natuurskoon daarvan, gekommersialiseer. Die gedeelte wat in 1922 deur die munisipaliteit van die Vintcent-familie aangekoop is sodat dit toeganklik vir Mosselbaai se inwoners kan bly, is omskep in 'n karavaanpark wat nou ook gekommersialiseer is," lui die verklaring.
In die kennisgewing oor die publieke deelnameproses, waaraan die raad se finale goedkeuring van die projek nog onderhewig is, word gesê die observasiewiel as 'n verbetering van die karavaanpark opgerig sal word. Luidens die vereniging se verklaring, is die perseel vir die wiel egter buite die karavaanpark as sulks geleë, en boonop sal dit bestaande parkeerplekke in beslag neem.
"Dit is onverstaanbaar dat dit as 'n verbetering aan die karavaanpark geag kan word. Parkering by die Punt is 'n probleem en die verkeer is reeds druk genoeg om dan nog mense daarheen te probeer lok.
"Die observasiewiel sal drie keer hoër as die nabygeleë vuurtoring wees. Dit sal die bestaande landskap ingrypend en tot nadeel van die erfeniswaarde van hierdie unieke gemeenskapsbate verander. Dit word aanvaar dat 'n observasiewiel 'n toeriste-aantreklikheid kan wees, maar die Punt is nie die plek daarvoor nie. Die vereniging doen 'n ernstige beroep op die inwoners van Mosselbaai om beswaar daarteen aan te teken voordat dit te laat is," lui die verklaring.
Skriftelike vertoë, kommentaar en/of voorstelle oor die projek moet aan die waarnemende munisipale bestuurder, Posbus 25, Mosselbaai 6500, of per e-pos aan admin@mosselbaai.gov.za gestuur word. Die spertyd is 25 Oktober 2021.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'