Soos die gebruik by die meeste munisipaliteite is, word korrespondensie en kennisgewings in die algemeen onder die naam van die munisipale bestuurder uitgestuur. Mense verkeer dan verkeerdelik onder die indruk dat die munisipale bestuurder self die saak hanteer of kan hanteer. Dit is egter prakties onmoontlik vir 'n munisipale bestuurder om dit te doen of kennis te dra van, byvoorbeeld, elke rekeningprobleem of bouplan of diensleweringsklagte.
Die munisipaliteit stuur gemiddeld 47 000 diensterekeninge per maand uit, en hanteer gemiddeld 100 tot 150 aansoeke vir bouplanne en grondgebruikvergunnings, om maar enkele voorbeelde te noem, elke maand. Daar is meer as 800 mense in diens van die munisipaliteit, en in die 2010/2011 finansiële jaar is in totaal 1 211 715 telefoonoproepe (selfoonoproepe uitgesluit) hanteer, en 42 099 items korrespondensie, e-pos uitgesluit, gestuur of ontvang. Hoewel statistiek oor e-posse nie beskikbaar is nie, kan aanvaar word dat baie meer e-posse van die publiek ontvang en beantwoord word as korrespondensie deur middel van briefwisseling.
'n Munisipaliteit is 'n groot organisasie met 'n groot begroting, en, soos die besturende direkteur van 'n korporasie van dieselfde grootte, is die rol van die munisipale bestuurder as die uitvoerende hoof van die munisipaliteit dus hoofsaaklik strategies van aard. Net soos by 'n kommersiële onderneming, word die munisipale bestuurder ondersteun deur 'n netwerk van gekwalifiseerde senior bestuurders wat elkeen 'n gedelegeerde verantwoordelikheid het vir sy of haar gebied van verantwoordelikheid en kundigheid.
Die Mosselbaai munisipaliteit het vyf direktorate waarvan die hoofde direk aan die munisipale bestuurder rapporteer, en wat verkieslik altyd eerste gekontak moet word met probleme, klagtes of navrae.
Die direktorate met hul onderskeie hoofde en funksies is:
- Tegniese Dienste: Mnr Dick Naidoo
- Waterverskaffing- en suiwering; Elektrisiteitsverskaffing; Strate; Stormwater; Riool; Beplanning en Ondersteuningsdienste;
- Meganiese Dienste (Vlootbestuur en Telemetriedienste); Elektristeitsnetwerk; Elektriese Beplanning en Klantediens.
- Gemeenskapsdienste: Mnr Colin Puren
- Gemeenskapsveiligheid (insluitende Algemene Wetstoepassing); Omgewingsgesondheid en Reinigingsdienste; Welsynsontwikkeling; Tuinbou; Sport en Ontspanning; Brandweer en Reddingsdienste; Rampbestuur; Verkeersdienste en Biblioteekdienste.
- Korporatiewe Dienste: Mnr Edward Jantjies
- Menslike Hulpbronne; Veranderingsbestuur (Geïntegreerde Ontwikkelingsplan, Gelyke Indiensneming en Prestasiebeheerstelsel) en Sosio-Ekonomiese Ontwikkeling (Plaaslike Ekonomiese Ontwikkeling, Jeugontwikkeling en Wykskomitees) en Maatskaplike Dienste.
- Finansiële Dienste: Mnr Herman Botha
- Finansiële Administrasie (Begroting, Kredietbeheer, Kontantvloeibestuur, Lenings, Beleggings en Waardasies); Inligtingstegnologie; Inkomste; Inligtingstegnologie, Uitgawes en Voorsieningskanaalbestuur (Tenders en Kwotasies).
- Ontwikkeling en Beplanning: Mnr Charl Möller
- Beplanning en Ontwikkeling (Strategiese Beplanning en Ontwikkelingsbeheer): Boubeheer (Bouplanondersoeke en Bou-inspektoraat; Munisipale Geboue; Buitelugreklame en Inligtingsdiens, eiendomseienaars en ontwikkelaars.
E-posse moet asseblief nie direk aan die munisipale bestuurder gerig word nie.