MOSSELBAAI NUUS - ArtSpace, 'n nie-winsgewende organisasie (NWO) wat die kunste in die Mosselbaai-streek bevorder, is verheug om die Italiaanse pianis, Ida Pelliccioli, aan musiekliefhebbers in Mosselbaai voor te stel met haar konsert, Spanje na Wene.
Pelliccioli is gebore in Bergamo en het aan die Nice Conservatoire de Région, asook die Ecole Normale de Musique de Paris gestudeer.
Meesterklasse
Sy het aan veelvuldige meesterklasse deelgeneem, onder andere met Jean-Claude Pennetier, Gerard Wyss en Norma Fisher.
Sy is een van ’n handjievol musikante wat leiding van die Kubaanse pianis Jorge Luis ontvang het.
Sy speel van tyd tot tyd in televisie- en film-produksies en is tans ook ’n lektor by die Paris Conservatoire.
Internasionaal
Dié talentvolle pianis is internasionaal groot in aanvraag. Vanjaar alleen het sy reeds in Swede, Litaue, Oostenryk en Australië opgetree.
Die musiekprogram vir die aand sal 'n klassieke musiekreis wees en sluit in komposisies van Scarlatti, Mozart, Manuel Blasco de Nebra en Schubert.
Inspirasie
Die inspirasie vir die program is die vergete musiek van die Spaanse komponis Blasco de Nebra - wat ook soms na verwys word as die “Spaanse Scarlatti”.
Die vertoning vind op Donderdag, 14 November, om 19:30 in die NG Moedergemeente saal (Klipkerk) in Kerkstraat plaas.
Deure open 19:00. Toegang is R150 per persoon. Bespreek voor 5 November en toegang is R130.
Besprekings kan by Abé Meintjes (083 268 3718) gemaak word.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’