MOSSELBAAI NUUS - Slegs een wettige vuurwerkvertoning sal op Oujaarsaand by Hartenbos plaasvind, vir die res van die groter Mosselbaai munisipale area is vuurwerke streng verbode en inwoners asook besoekers word versoek om gehoor te gee aan die verbod.
Geen ander aansoeke om wettige vuurwerkvertonings is deur die Mosselbaai-munisipaliteit ontvang nie, en geen verdere aansoeke wat ontvang mag word, sal volgens regulasies oorweeg kan word nie.
"Benewens die brandgevaar in 'n baie, baie droë omgewing, word inwoners ook gewaarsku oor die bewese gevare wat vuurwerke vir troeteldiere inhou."
"Die area voor die Hartenbos Seefront sal afgesper wees vir die duur van die vertoning wat voor die Spur sal plaasvind," berig die hoof van Mosselbaai brand- en rampbestuursdiense, mnr Joe Johnston.
Gearresteer
Intussen het Mosselbaai se wetstoepassers in 'n gesamentlike operasie met die SA Polisie se plofstof-eenheid, die Mosselbaai brandweer en die onderskeie polisiestasies toegeslaan op die onwettige handel in vuurwerke.
Teen Woensdagoggend is vier onwettige handelaars gearresteer en is op hul handelsware beslag gelê.
Dié monitering en wetstoe-passingsoptrede duur vir die feesseisoen voort om te verseker dat onwettige plofstof nie verkoop word nie.
"Die probleem bestaan egter dat besoekers aan die area vuurwerke van buite die area na Mosselbaai bring om hier te gebruik," sê mnr Johnston. Hy waarsku besoekers om nie vuurwerke in woongebiede af te vuur nie.
Dink aan troeteldiere
Jaarliks word dieresorgverenigings na die feesgety oorval met rondloperdiere wat uit hul erf uitgebreek het uit vrees vir die vuurwerke, talle ander word doodgery of ernstig beseer wanneer voertuie hulle tref.
Enige persoon wat klagtes oor onwettige vuurwerke wil registreer, word versoek om hul plaaslike polisiestasie te kontak.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'