MOSSELBAAI NUUS - Die Mossel Bay Advertiser het tydens 'n geselligheid by hul kantore hulle medewerkers bedank en so ook die jaar afgesluit. Rauch Gertenbach het in 2011 in samewerking met die Advertiser, hulle spreekwoordelike bure, fotogalery-aande gehou waar plaaslike fotograwe hul werk uitgestal het. Met die aanbied van die Mosselbaai Sport- en Rekreasiefees in 2012, het die Advertiser hierdie fotograwe genader om die aksie te help dek.
En so het 'n wonderlike verhouding met hierdie medewerkers gegroei.
Van die vryskutte wat sedert hierdie eerste interaksie, steeds aanboord is, is Elaine van der Toorn, Tersia Marais, Mandie Black en Mariska Visagie. Visagie werk sedert 2020 as korrespondent op Albertinia vir die Suid-Kaap Forum, die Advertiser se susterskoerant.
Volgens die Advertiser se redakteur, is die vryskutte goud werd en lewer hulle 'n daadwerklike bydrae tot die uiteindelike produk.
Hoewel hulle vanweë die Covid-19-pandemie en die afname in dorpsfeeste nie so aktief van die koerant se bedrywighede kon deel wees nie, het hulle 'n deurslaggewende rol tydens die beriggewing oor die plaaslike regeringsverkiesing op 1 November vanjaar, gespeel.
Die Advertiser-span en hulle medewerkers (agter van links) Jannie du Plessis (joernalis), Sharlton Groenewald, Grey Stopforth, Mariska Visagie, Suzette Herrer (redakteur) Linda Sparg (joernalis), Cornelle Carstens (nuusredakteur), (voor van links) Louise Karsten (joernalis), Elaine van der Toorn, Mandie Black, Tersia Marais en haar kleindogter, Meehika. Foto: Susan Graaff
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'