Breaking News Update
MOSSELBAAI NUUS - Die 40-jarige inwoner van Hartensee-kompleks op Hartenbos wat beweer het dat sy op 21 November by haar woning in die kompleks verkrag is, het die hele voorval gefabriseer.
Die vrou het beweer dat sy besig was om wasgoed op te hang, toe ‘n onbekende man haar oorval het en in haar huis verkrag het. Sy het verskeie beserings oor haar lyf opgedoen, wat sy na wat verneem word, self toegedien het.
Die polisie se eenheid vir gesinsgeweld, kinderbeskermings en seksuele misdrywe het die saak ondersoek. ‘n Bloed-en-semen hond van Oudtshoorn is na die toneel ontbied en die polisie het ‘n gesigsamestelling van die sogenaamde verkragter saamgestel.
‘n Soektog is na die verdagte, wat deur die vrou beskryf is as blank, met bruin oë, blonde hare en ‘n skerp ken, van stapel gestuur. Sy het aan die polisie ‘n beskrywing van die man gegee en gesê hy was geklee in ‘n donkerblou T-hemp, denimbroek en ‘n donkerblou pet waarop daar in wit geskryf is.
Die vrou het vroeër vanjaar ook ‘n saak by die Da Gamaskop-polisie aanhangig gemaak waarin sy beweer het dat sy deur ‘n onbekende man geteister word. Die polisie het die saak ook ondersoek. Sy het na wat verneem word egter self die briewe, waarin sy en haar gesin gedreig word, geskryf.
Die vrou staar aanklagte van meineed en regsverydeling in die gesig.
Lees 'n vorige artikel: Vrou wat verkrag word glo geruime tyd bekruip
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'