MOSSELBAAI NUUS - 'n Mens sou nie sommer kan dink dat iemand wat hulleself as sku, senuweeagtig en met 'n baie lae selfbeeld beskryf het, moontlik die voorbladnooi van 'n internasionale manstydskrif kan word nie. Maar dít is Lee-Ann Muller (27) se verhaal van transformasie.
Sy is tans tweede op die ranglys onder die 36 ander modelle in haar kategorie in die Maxim Cover Girl-kompetisie.
Dié gebore Mosselbaaier, 'n boorling van Gaatjie, werk tans by Pinnacle Point Beach & Golf Resort as 'n administratiewe klerk.
"Ek het in 2010, my matriekjaar, deelgeneem aan Mej Sao Bras en maar net die top 10 gehaal." Dit was 'n moeilike tyd in haar lewe. Min het sy tóé kon dink dat sy 10 jaar later internasionaal sou meeding vir 'n plekkie op 'n tydskrifvoorblad.
Sy doen nou en dan 'n fotosessie saam met 'n vriend wat 'n fotograaf is en dan 'n model benodig. Voorheen het sy ook vir 'n bruidskatalogus vir Gemini Model and Talent Agency gemodelleer.
"Dit is nie 'n gereelde ding nie. Dit is meer vir die fun, om ondervinding op te bou en omdat ek nou so lief is om voor die kamera te wees."
Haar inskrywing was bloot 'n probeerslag. "Ek het glad nie verwag of in my wildste drome kon dink dat ek uit horde inskrywings gekies sou word om te kompeteer nie.
"Maar dan weer, 'every accomplishment starts with the decision to try'. En ek hou by hierdie aanhaling."
Sy glo dat alles waardeur sy in haar jeug is, haar voorberei het om dapper te wees en dinge aan te pak wat sy gedink het nie vir haar beskore is nie.
Lee-Ann meen skoonheid bestaan nie net uit die uiterlike nie. "Dit is ook nie net sekere shapes en sizes nie. As jou rein hart nie na buite straal nie, beteken die uiterlike skoonheid absoluut niks."
En wat gebeur as sy die kompetisie wen? "Ek wil baie graag deeltyds begin studeer. Ek wou graag na skool regte studeer, maar ek het swanger geraak en moes toe begin werk. Finansieel kon ek toe nie studeer nie, nie eens deeltyds nie. Want my gesin is afhanklik van my."
Die wenner in die kompetisie ontvang $25 000 in kontant. Daar is 'n voorblad-fotosessie met wêreldbekende fotograaf, Gilles Bensimon. Boonop kry onse Lee-Ann ook dan 'n dubbelblad-artikel wat binne die tydskrif sal verskyn.
Die kompetisie het op 29 Mei begin. "Ek doen gereeld plasings of sosiale media om mense te herinner aan my deelname. Almal wat stem, kan elke 24 uur weer 'n keer gratis stem. Dan is daar ook warrior votes wat gekoop kan word teen $1 om my aan te help in die kompetisie. Daardie geld word aan 'n liefdadigheidsorganisasie geskenk."
Stem vir Lee-Ann by https://maximcovergirl.com/2020/lee-ann-muller
Moeilik om te dink dat die sprankelende Lee-Ann Muller "skaam en sku" was.
Lee-Ann in haar werksomgewing.
Sy is baie lief vir die kamera.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'