KLEIN-BRAKRIVIER NUUS - VLV Klein-Brakrivier-lede en gaste het by die tak se landboubyeenkoms in September meer oor makadamianeute geleer.
"Ons weet dat neute breinvoedsel is, maar Hannah Badenhorst het ons ook meer geleer oor makadamiaolie se voordele," sê die VLV.
Volgens Badenhorst hou dié olie die volgende voordele vir die vel en hare in:
- verlig krapperigheid en jeuk, selfs ekseem
- herstel wond- en rekmerke
- voorkom premature plooie
- hestel gebarste lippe
- voed dowwe, droë hare
- bevogtig en vernuwe die kopvel
- reguleer olieproduksie by olierige hare.
Daar is ook kookgebruike. Die rookpunt van makadamiaolie is 210 °C, wat dit uiters geskik vir diepbraai maak.
Dis ideaal om mee te bak, braai en rooster, en smaak heerlik in slaaisouse. Badenhorst het selfs al leermeubels nuwe lewe gegee met 'n bietjie liefde en makadamiaolie.
Ander gebeure
Die Klein-Brak-tak het 'n versoek via een van die lede ontvang om studente van die Universiteit van Pretoria wat in 2027 in professionele posisies gaan begin werk, van uitrustings te help voorsien. Die studente is rekenmeesters, asook belasting- en finansiële praktisyns.
Die VLV meen baie mense het nog 'werksklere' in hul kaste wat hulle nie weer gaan gebruik nie. Talle skenkings is reeds ontvang.
"Die reaksie was oorweldigend, en in lyn met ons leuse vir 2026, naamlik 'Ons krag lê in spanwerk'," sê die tak. Die skenking gaan via 'n koerierdiens na die universiteit gestuur word.
Die insameling van bottelproppies vir die Sweethearts Foundation is ook onder die lede se aandag gebring, en daar is verduidelik watter proppies ingesamel kan word.
Oktober-geleentheid
Die samesyn na afloop van die formele gedeelte was heerlik en gesellig. Die tak se Oktober-byeenkoms het 'n potpourri-tema en gaan informeel wees met prettige aktiwiteite wat lede en gaste die geleentheid sal gee om mekaar beter te leer ken.
Dit vind op 27 Oktober om 10:00 in die Reebok-gemeenskapsaal plaas. Belangstellendes kan die voorsitter, Lydie Terblanche, by 082 928 5624 kontak.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’