MOSSELBAAI NUUS - Vlam van Deventer, bekend vir sy tuinontwerpe en -uitleg, het begin Maart lekker met die Midbrak-tuinbouklub en lede van die publiek gesels oor Maart se tuintake. Die flambojante Vlam, aanvanklik van Bloemfontein, het almal geïnspireer om dadelik in die tuin te spring. Die geleentheid het plaasgevind by Ornamental Gardens.
Vlam het gesels oor die belangrikheid van jou eie kompos maak en dit in die sandgrond in roer en nie omspit nie. Hy noem dat daar kruiwa kompos per vierkante meter nodig is.
Ander interessante inligting het ingesluit die plant van wit blomme in areas waar daar snags tuinligte skyn; kontras in die tuine; die gebruik van verskillende loofvariasies; fokuspunte; die regte gebruik van kunsmis; die kweek van steggies; die beste plante vir hierdie spesifiek area; raad oor tuinplae en -peste.
Petro Botha, een van die drie stigterslede van die Midbrak-tuinbouklub het ook kom inloer en twee nuwe lede, Charlotte Smit en Elize Weiermans het op die dag by die klub aangesluit.
Vir hulp met al jou tuinvrae, kontak gerus vir Vlam (083 228 1641 / 044 696 6269) of die Midbrak-tuinbouklub, waarvan Vlam ook 'n lid is.
Om meer uit te vind van die tuinbouklub en wat die volgende byeenkoms behels, hou gerus die Advertiser dop of kontak Magda Ryksen (044 620 2930 / 072 374 2002).
Midbrak Tuinbouklub lede luister aandagtig na die flambojante Vlam van Deventer.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'