GROOT-BRAKRIVIER NUUS - Die polisie op Groot-Brakrivier sê die toename in huisbrake in die omgewing is kommerwekkend.
Daar is reeds by 28 wonings in die polisie se bedieningsgebied in die afgelope twee weke ingebreek.
Volgens die polisiewoordvoerder, sers Chantel Marais, is die verdagtes se werkwyse om wonings se vensters uit te haal, of gaatjies in houtvensterrame te boor en dan so toegang tot wonings te verkry.
Die verdagtes teiken nie slegs leë vakansiewonings nie maar huise wat bewoon word.
Volgens sers Marais word huise met alarmstelsels ook geteiken en is reeds duisende rand se goedere gesteel.
"Eergister is daar by 'n woning in Rooiboklaan ingebreek en R60 000 se items is gesteel."
"Ons versoek inwoners van Tergniet, Rheebok, Hersham en Pienaarstrand om verdagte voertuie of persone wat in die omgewing opgemerk word, onmiddelik aan die polisie te rapporteer."
Volgens Marais vind die huisbrake tussen 01:00 en 05:00 plaas.
Die polisie versoek die publiek om 'n volledige beskrywings van verdagte voertuie, die jaar, model, kleur, registrasienommers, die rigting waarin die voertuig of persone beweeg asook volledige beskrywing van verdagte persone te rapporteer.
"Hoe meer inligting u aan die polisie kan verskaf, hoe meer effektief kan die polisie optree. Sluit u deure en vensters."
'Ons bring jou die nuutste Groot-Brakrivier, Tuinroete nuus'