MOSSELBAAI NUUS - Van November tot nou het die Slangboere altesaam 221 slange in en om Mosselbaai gevang - en dit is nou natuurlik net dié wat die mense raakgesien en gerapporteer het.
Volgens Devon de Villiers van Slangboere strek hul werksgebied van Danabaai tot Klein-Brakrivier, maar die span van drie ontvang ook gereeld uitroepe na omliggende plase.
Hy sê sekere slange kom vir seker meer algemeen in sekere gebiede voor.
"Byvoorbeeld, Kaapse kobras is baie meer algemeen in Hartenbos Heuwels, Renosterbos en Island View as in plekke soos Mosselbaai of Klein-Brak. Pofadders kom ook baie meer in Hartenbos en Danabaai voor as in Klein-Brak of Mosselbaai," sê hy.
De Villiers sê dit was beslis een van hul besigste seisoene tot op hede, maar dat mense nie moet dink daar is ewe skielik baie meer slange in die area nie. Verskeie faktore speel ’n rol en dit word natuurlik beheer, hetsy deur roofdiere of -voëls, of selfs ander slange. De Villiers sê byvoorbeeld kobras sal pofadders eet wanneer die kans hom voordoen. Natuurlike toestande soos die onlangse droogte en brande sou dus ook ’n rol speel.
Die span se vanglys vir die tydperk van November tot nou:
• Kaapse kobras: 38
• Boomslange: 55
• Pofadders: 70
• Groen waterslange: 7
• Bruin huisslange: 17
• Skaapstekers: 9
• Slakvreters: 13
• Olyf huisslange: 5
• Sweepslange: 4
• Nagadders: 3
* Een groenmamba vorm ook deel van hierdie statistieke, maar was vermoedelik in die vakansiegangers van KwaZulu-Natal se kar toe hulle hierheen gereis het.
Só lyk die verskillende slange op hierdie lys (foto's deur Slangboere verskaf):
Kaapse kobra (naja nivea).
Boomslange (dispholidus typus) - links is die wyfie, regs die mannetjie.
Pofadder (bitis arietans).
Groen waterslang, ofte wel, Western Natal green snake (philothamnus occidentalis).
Bruin huisslang (boaedon capensis). Foto: Linzetta Calitz
Rhombic skaapsteker (psammophylax rhombeatus).
Olyf huisslang (lycodonomorphus inornatus).
Sweepslang, ofte wel cross marked whipsnake (psammophis crucifer).
Nagadder, ofte wel, rhombic night adder (causus rhombeatus).
Groenmamba (dendroaspis angusticeps).
Klik hier vir ’n foto van ’n slakvreter: African Snakebite Institute
Hoekom is daar ’n slang in of buite jou huis?
Mense moet ook let op die dinge wat slange dalk na hul wonings kan lok. “Kos, skuiling en water – dit is waarna slange op soek is,” sê hy. As jy dus ’n omgewing buite jou huis skep waar ’n slang kan skuiling vind, moet jy nie verbaas wees as jy hom daar kry nie.
Dit kan goedere wees wat buite rondstaan, rotte in jou huis (waarvan jy dalk nie eers bewus is nie), voëlvoerders in jou tuin (boomslange eet voëls), selfs heinings wat kan keer dat ’n slang uit jou erf ontsnap.
Hoewel meeste van die slange hier onskadelik is, sê De Villiers daar is drie spesies in die Mosselbaai-omgewing waarvoor jy mediese hulp sal moet kry as hulle jou byt: die pofadder, Kaapse kobra en boomslang - elk met sy eie tipe gif en voorkoms.
Pofadders het sitotoksiese gif, wat bloedselle en weefsel aanval. Kaapse kobras het neurotoksiese gif wat die senuweestelsel aanval. Boomslange se gif is weer hemotoksies wat die liggaam se vermoë om bloed te laat stol beïnvloed.
De Villiers sê Maart was sover heelwat rustiger as die vorige vier maande. Soos temperature afkoel, gaan slange in brumasie (soortgelyk aan hibernasie) in, sê hy. Hulle is dan baie minder aktief, maar sal steeds uitkom/gesien word wanneer temperature effens styg.
"Wanneer jy op 'n slang afkom, is die belangrikste ding om kalm te bly," sê hy. "Hou die slang vanaf 'n minimumafstand van twee meter dop en bel ons onmiddellik. Moenie self probeer held speel of iemand vra wat nie 'n professionele slangvanger is nie; ons sal die slang veilig vang en verwyder."
En vir dié wat dalk dink die maklikste oplossing is 'n graaf of 'n klip: De Villiers herinner dat dit onwettig is om 'n slang dood te maak, en dat oortreders 'n stewige boete kan verwag.
Bel of whatsapp Slangboere by 076 781 0528 vir enige slangsituasie. Volg hulle op die Facebook-blad Slangboere vir meer inligting oor hulle bedrywighede.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’