Gallery
MOSSELBAAI NUUS - Reaksie uit die gemeenskap oor die pas afgelope Tarka Straatfees, is ooweldigend positief meen die organiseerder, James Malgas.
Dit blyk egter ook duidelik uit foto's van die fees wat wyd op sosiale mediaplatvorms gedeel is sedert die fees die afgelope naweek plaasgevind het.
Komedie, dans, sang, jazz- en blaasorkeste, trompoppies, 'n skoonheidskompetisie vir vroue met voller figure, heerlike lekkernye by die stalletjies, 'n boekbekendstelling en nog meer het hierdie viering van een van Mosselbaai se oudste woonbuurte, gekenmerk.
Die fees het reeds verlede Donderdag begin met 'n kultuurpraatjie waartydens die skrywer Charles Theunissen se boek,
Die kinders van Tarka en elders, bekendgestel is.
Vrydag laatmiddag soos die werksdag afgesluit het, het gesinne na die feesterrein en opelugverhoog begin stroom.
Die geure vanaf die kosstalletjies het monde laat water en gou-gou het feesgangers al etende deur die straat gemaal en sommer 'n danspassie of twee uitgevoer tussenin.
Volgens Malgas was een van die groot hoogtepunte Johnny Magic se optrede.
Hierdie kulkunstenaar van Clanwilliam wat tydens SA's Got Talent naam gemaak het, het gehore na hulle asem laat snak met sy toertjies.
Terwyl al die vermaak tydens die fees van hoogstaande gehalte was, maak Malgas veral ook melding van die violis Didi Didlof, 'n gerekende violis en kontrabasspeler wat al die verhoog met kunstenaars soos Zanne Stapelberg en Steve Hofmeyr gedeel het.
James Malgas, organiseerder van die Tarka Straatfees.
Riku Lätti van Die Wasgoedlyn-faam het saam met kabaret-diva uit eie bodem, Petronel Baard opgetree.
Malgas het ook gesê dat daar sprake is dat die komediant Wassief Pikaan, ook 'n feeshoogtepunt, in die komende jaar die Tarka Straatfees sterker sal onderskryf.
Feesgangers het met oorgawe deelgeneem aan die verskeidenheid aktiwiteite en een van die groot treffers was ook die Mej Volrond-kompetisie.
ARTIKEL: CORNELLE CARSTENS, MOSSEL BAY ADVERTISER-JOERNALIS
FOTO'S: DONOVAN POOLE EN CORNELLE CARSTENS
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'