MOSSELBAAI NUUS - 'n Gewoonte misdadiger, Leon van Rooi (39) is verlede week in die Mosselbaai-streekhof onder meer twee keer lewenslange vonnisse opgelê vir die verkagting van 'n 45-jarige vrou.
Van Rooi het die slagoffer in 2017 om 'n saamrygeleentheid by 'n vulstasie in George gevra.
Die slagoffer het tydens die hofsaak getuig dat sy nooit iemand 'n saamrygeleentheid gee nie, máár dat Van Rooi voorgekom het as iemand wat vertrou kan word.
Van Rooi het voorgestel om te bestuur. By die Pacaltsdorp-afrit na die N2 het hy 'n mes uitgehaal en in die rigting van Mosselbaai gery. Hy het die vrou na bewering aangerand en agter in die motor se kattebak gegooi.
Grusame getuienis van hoe 'n weerlose slagoffer, ná sy na bewering vasgebind en verskeie kere langs die N2 in die Glentana-omgewing verkrag is, is in die Mosselbaai-streekhof afgelê.
Van Rooi het tydens die verhoor uitdrukkingloos voor hom uitgestaar toe 'n vragmotorbestuurder, Shaun Perish getuig het hoe hy omstreeks 00:30 die oggend van 29 Augustus, 2017 op die grutoneel afgekom het. "My vragmotor se ligte het op iets langs die pad geskyn wat vir my soos 'n klein blondekop dogtertjie gelyk het."
Perish het getuig dat hy by die Glentana-afrit omgedraai en na die toneel teruggery het. Dis tóé dat hy op 'n 44-jarige vrou afgekom het wat half naak en met haar voete en hande vasgebind, tussen die geelstreep en die gras gesit het na 'n beweerde nag van hel.
Perish het getuig dat hy haar langs die pad gevind, losgemaak en in sy vragmotor laat sit het. "Sy was baie angsbevange en bewerig. Toe ek haar haar vra wat is fout, het sy gesê sy is verkrag."
Hy het verder getuig dat die slagoffer aan hom gesê het "hy het my motor geneem en gesê hy gaan sy vriende haal, want hulle sal my ook graag wil ontmoet".
Van Rooi het wegry en sy het losgebreek van die boom waaraan hy haar vasgemaak het, maar kon haarself nie van die ander toue bevry nie. Sy het aan Perish gesê dat sy tot langs die pad aangesukkel het om hulp te soek. Perish het onmiddellik die polisie in kennis gestel.
Van Rooi is later in hegtenis geneem en is verlede week twee lewenslange vonnisse opgelê vir die misdryf. Hy word na wat verneem word ook verbind met 'n ander verkragtingsaak wat verband hou met 'n voorval in Colesberg en sal op daardie aanklagte ook in die hof verskyn.
Die staatsaanklaer was Corné Pretorius.
Vorige artikel: Hof besoek 'grutoneel' op N2
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'