GEORGE NUUS - Die skielike dood van die geliefde verkeersman, Sylvester Parks (29), is gister, 18 Augustus, met groot skok en hartseer begroet. Die George-polisie het ’n dossier vir ’n geregtelike doodsondersoek geopen ná sy skietdood by Voëlklip in Heroldsbaai.
Parks, ’n provinsiale verkeersbeampte van Mosselbaai, is vroeg gisteroggend dood in sy motor naby die gewilde uitkykpunt aangetref.
Volgens inligting aan George Herald het vissermanne, wat van die see af teruggekeer het, eerste op sy voertuig afgekom. Kort daarna het kollegas en nooddienste op die toneel opgedaag.
Hy was oorspronklik van Pacaltsdorp, maar het sedert sy aanstelling by Mosselbaai se provinsiale verkeersdiens op Friemersheim gewoon.
In ’n kennisgewing van die Mosselbaai-verkeersentrum wat gister gesirkuleer is, is Parks geloof vir sy toegewyde diens en die merkbare impak wat hy op kollegas en die gemeenskap gehad het.
“Sy heengaan is vir ons departement ’n groot verlies, asook vir almal wat hom geken het. Ons gedagtes en gebede is by sy familie, kollegas en geliefdes in hierdie moeilike tyd,” lui die kennisgewing.
Parks laat sy ouers en ’n jonger broer agter.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’