Video
MOSSELBAAI NUUS EN VIDEO'S - Met die semigrasie van duisende binnelanders na die Suid-Kaap, raak bekostigbare behuising in Mosselbaai al hoe skaarser. Erwe en huise se pryse het buitensporig gestyg, terwyl die gevolge van Covid-19 en voortdurende beurtkrag baie mense hul werk laat verloor het en daarmee saam ook enige besteebare inkomste wat hul gehad het. Baie mense wat voorheen huiseienaars was, word nou gedwing om huise te huur.
Mossel Bay Advertiser het in Oktober verlede jaar berig oor die behandeling wat Joy Rutenberg en 'n bejaarde man waarna sy omsien, gekry het van die huiseienaar wat hulle glo uit die huis wou sit.
Dié huiseienaar het op 11 Oktober (net 'n week nadat die huur nie betaal is nie) glo wederregtelik die krag laat afsit en ondanks verskeie pogings en klagtes by die Mosselbaai-munisipaliteit en 'n klag van aanranding by die Mosselbaai polisie, is die elektrisiteit glo eers vier maande later aangesit, nadat die hof 'n spoliebevel aan Rutenberg toegestaan het.
Kragtoevoer is uiteindelik herstel, maar volgens Rutenberg duur die aanhoudende terrorisering deur die huiseienaar voort.
Rutenberg het die persoon aan die Huurbehuisingstribunaal en aan die Reguleringsowerheid vir Eiendomspraktisyns (PPRA) gerapporteer.
Volgens rekords, besit die persoon nie 'n Fidelity Fund Certificate nie en mag dus volgens wet nie eiendom bou nie of handel dryf as 'n eiendomsagent nie. Rutenberg vertel: "Ek het dit onder die Mosselbaai-munisipaliteit se bou-inspekteurs se aandag gebring. Maar dit lyk asof hy ongehinderd voortgaan."
Intussen het die elektrisiteitsafdeling van die munisipaliteit laat weet dat hulle Vrydag, 3 Maart 'n nuwe kragmeter kom insit. "Dit is ook onwettig en teenstrydig met die hofbevel wat uitgereik is. Weer eens maak en breek hierdie persoon soos hy wil."
Rutenberg voel ook dat nuwelinge in die dorp nie welkom is nie en uitgebuit word. "Die dorp is baie clicky. Salarisse is 'n kwart of 'n derde van wat in stede verdien word, maar die lewenskoste is dieselfde of hoër as in ander plekke. Daar is net geen manier dat mense hier kan vooruitgaan nie.
"Die gemiddelde werker in Mosselbaai en omgewing word uit die eiendomsmark gedwing en moet dus huur. Van die verhuurders het nie aparte kragmeters in die eenhede nie en besluit self hoeveel krageenhede die huurders gebruik het. Baie keer betaal mense vir 50 eenhede, maar kry net 15 eenhede."
Rutenberg is bekommerd dat mense nie die wet ken nie en deur huiseienaars uitgebuit word.
VIDEO - Joy Rutenberg explains her issues with landlords in Mossel Bay:
VIDEO - Joy Rutenberg on the exploitation of newcomers to the Mossel Bay area:
VIDEO - Joy Rutenberg talks about the salary discrepancies between the Garden Route and other areas:
VIDEO - Joy Rutenberg questions the morals and integrity of the home owner after harassment:
VIDEO - Joy Rutenberg on the importance of offering good service especially in the property business:
Vorige artikel: Complaint about 'abusive' landlord
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'