MOSSELBAAI NUUS - Groot-Brakrivier-inwoner, Vera Reynolds (52), het die Freedom Challenge aangedurf - 'n 2 000 kilometer fietsrit van Pietermaritzburg na Wellington.
Fietsryers wat aan die Freedom Challenge deelgeneem het, het 26 dae gehad om die roete te voltooi. In Julie vanjaar, het Vera die tog in slegs 20 dae voltooi.
Vera was nie net die eerste vrou wat die wenstreep bereik het nie, maar het dit ook ses dae vroeër as die verwagte tyd gedoen.
Hierdie selfondersteunde wedren vereis dat deelnemers die uitdagende roete deur bergpasse en dorpe sonder GPS navigeer, maar slegs met A4-kaarte en 'n kompas.
Die roete volg die Vryheidsroete van Pietermaritzburg na Wellington langs 'n wye verskeidenheid veldryterreine - grondpaaie, plaaspaaie en -spore, voetpaadjies en dierespore.
Daar word nie van fietsryers vereis om elke dag/nag te stop soos in ander skofwedrenne nie. 20 ondersteuningstasies is langs die roete opgerig waar fietsryers moet inklok. Benewens die ondersteuningstasies is daar ook 16 tussentydse haltes waar kos en verblyf voorsien word.
Nou, het Vera haar visier daarop om aan die Comrades deel te neem. Sy sal binnekort op Sondag, 20 Oktober, aan die Sanlam Kaapstad marathon deelneem.
Dié marathon is, volgens Vera, 'n toets om te sien of sy die Comrades-wedloop sal kan aandurf.
Die Comrades is 'n ultra-marathon van ongeveer 88 kilometer, wat jaarliks in die KwaZulu-Natal provinsie tussen die stede Durban en Pietermaritzburg gehardloop word.
Vera was vroeër ook 'n hardloper; maar die Kaapstad marathon sal haar eerste wedloop in 13 jaar wees.
Ook in Vera se visier is die Munga-fietsren. Die wedren strek oor 1000 kilometer en deelnemers het net vyf dae om deur die Karoo te kom en Wellington te bereik, voor die afsnypunt. Fietsryers het 126 uur om die wedren te voltooi – Vera hoop om die wenstreep binne 95 uur te bereik.
Toe sy gevra is of sy weer die Freedom Challenge sal aandurf, het sy gesê toe dit eindig, het sy besluit om nooit weer te doen nie. Maar, "die trek van die roete was genoeg om te begin spaar vir die volgende Freedom Challenge," sê sy.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’