MOSSELBAAI NUUS - Die moedswillige en kwaadwillige skade aan infrastruktuur by strande in die groter Mosselbaai het die Mosselbaai-munisipaliteit genoop om 'n beroep op die gemeenskap te doen om hierdie dade te staak.
Talle strande het in die onlangse verlede opnuut onder vandale deurgeloop. Infrastukruur soos toilette, plafonne en omheinings is doelbewus in die meeste voorvalle beskadig sonder dat diefstal voorgekom het.
Onlangs, op De Bakke, Mosselbaai se pronkstrand, is 10 paaltjies van die omheiding gebreek. Op Santos is toilette gevandaliseer. Plafonne van infrastruktuur is op Tweekuilen uit die dak gebreek. In Danabaai is grafitti binne die ablusiefasiliteite aangebring.
"Inwoners moet besef dat fondse wat vir die herstel van infrastruktuur gebruik moet word, veel beter aangewend sou kon word om selfs beter fasiliteite vir ons gemeenskap te kan voorsien.
"Dit is sinneloos om deurentyd herstelwerk te doen waar moedswillige skade aangerig word. Ek vra die gemeenskap vir hul samewerking om asseblief die sinnelose vandalisering te staak en om, waar moontlik, die kwaaddoeners te identifiseer en voorvalle aan die plaaslike polisie en/of wetstoepassers te rapporteer.
"Mosselbaai se ekonomie word grotendeels deur toerisme bevorder. Geen toeris sal ons strande besoek en geld in die dorp spandeer as dit die toestande is wat hulle besoek nie. Vandalisme het uiteindelik 'n impak op werkskepping, op die algemene ekonomie en op die vooruitgang van ons dorp. Staak asseblief hierdie sinnelose vernielsug," het Mosselbaai se uitvoerende burgemeester, raadsheer Harry Levendal gevra.
Op Santosstrand is toiletgeriewe geplunder.
Graffiti ontsier die mure van die ablusiegeriewe op Danabaai se strande.
By Tweekuilen is stukke van die plafon uit die dak geruk.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'