FRIEMERSHEIM NUUS - Ná 37 jaar in die onderwys, 20 daarvan aan die stuur van Friemersheim Primêr, staan mnr. James Speelman (59) byna aftrede se kant toe.
Van skoolhou in landelike skole kan jy hom niks vertel nie.
Behalwe vir 'n tydperk by Diaz Primêr, waar hy in 1988 sy onderwysloopbaan begin het, het Speelman daarna slegs by landelike skole skoolgehou.
Voor Friemersheim het hy by skole in Vleesbaai, Gouritsmond, Ruiterbos en Kleinplaas skoolgegee.
Hier het hy dikwels vir gr. 4 tot 7 in een klas skoolgehou, soos die norm by baie landelike skole is.
Friemersheim Primêr, vertel hy, het tans slegs een gekombineerde klas (gr. 5 en 6), terwyl die res van die grade elk apart is. Speelman en sy klein span onderwysers het tans 234 leerders in die skool.
Hy self is ook 'n voltydse onderwyser en gee sosiale wetenskappe, Engels en tegnologie vir gr. 4 tot 7 - hiér sit die hoof nie in 'n kantoor nie!
Speelman is 'n gebore Friemersheimer en was self ook kleintyd in Friemersheim Primêr. "Ek is 'n baie gelukkige mens wat in my geboortedorp kan aftree."
Hy het as destydse sub A-leerder by die skool ingestap en sal as afgetrede man ook daar uitstap. Hy sê hy is baie trots op die feit dat hy albei hierdie mylpale in Friemersheim kon bereik.
Speelman vertel hy wou eintlik 'n sendeling geword het, maar sy pa het volgehou hy moet 'n werk kry. Speelman voel egter nou die onderwys is 'n tipe sendingwerk op sy eie.
En soos baie wat die onderwys betree het hy ook vreeslik lief vir die kinders geword, en is hy nie spyt oor sy loopbaankeuse nie.
Hy sê landelike skole het maar hulle uitdagings. Weens omstandighede sukkel hulle dikwels met onder meer ouerbetrokkenheid en ook dissipline.
"Op Friemersheim probeer ons godsdiens weer die middelpunt maak." Hulle probeer omstandighede wat soms buite hulle beheer is met dié aanslag aan te spreek.
"Onse kinders het baie seer en baie pyn; ons ervaar dit daagliks."
Terselfdertyd sê hy hulle probeer die kinders leer dat hulle nie altyd kan terugkyk op hul omstandighede nie, maar moet probeer veg met dit wat hulle het. "Ons wil uitstyg; jy moet kan trots wees. Ons het al ingenieurs, prokureurs en meer hier uit die skool gelewer."
Soos hy terugkyk op die meer as 30 jaar se onderwys agter hom, is daar een les wat uitstaan: "Ek het geleer om nie op te gee nie, veral nie op 'n kind nie."
En in die jare wat voor hom lê wanneer hy aftree, sien hy uit na meer tyd in sy tuin en saam met sy gesin.
Hy sê hy is lief vir tuinwerk en mag dalk selfs sy tuin groter maak. Die fokus is meer op groente as blomme. Hy lag en sê sy vrou baklei al met hom daaroor: "Maar ons kan nie blomme eet nie!"
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’