MOSSELBAAI NUUS - Die tweelingboeties van Mosselbaai wie se ma kort na hulle geboorte aan Covid-19 oorlede is, floreer in hulle nuwe tuiste op Stellenbosch.
Die Mossel Bay Advertiser het vroeër vanjaar berig dat die tweeling, Reece en Rylie deur middel van 'n noodkeisersnee op 28 Desember 2020 gebore is nadat hulle ma, die 37-jarige Rozaan (Gelderbloem) November Covid-19 opgedoen het.
Sy is op Saterdag, 9 Januarie aan Covid-19 verwante oorsake in die George provinsiale hospitaal oorlede.
Die tweeling se ouers is op 7 November in die huwelik bevestig.
Toe die babaseuntjies se verhaal op sosiale media rugbaar word, het dit soos 'n veldbrand onder Mosselbaaiers versprei en lede van die gemeenskap het op verskeie maniere begin uitreik om bestaande behoeftes aan te spreek.
Georgia Argyropoulos, eienaar van Kids Kingdom het een van die projekte geïnisieer en het die tweeling, wat tans in die sorg van hulle pa is, besoek. Argyropoulos het vroeër vanjaar aangebied om 'n fonds te stig vir die tweeling sodat hulle by Kids Kingdom sal kan skoolgaan.
Volgens Argyropoulos is die donasies wat ontvang is in twee gedeeltes aan die tweeling oorhandig. Eers tydens hulle verblyf op Mosselbaai, toe hulle in die sorg van hulle ouma, Rosemarie Plaatjies was en die volgende skenking is deur Argyropoulos afgelewer tydens haar besoek aan Stellenbosch.
"Die familie het met trots vir ons die tweeling se ligblou kamer gewys en ons baie welkom laat voel."
Aangesien die tweeling verhuis het, sal hulle nie meer by Kids Kingdom kan skoolgaan nie, maar het Argyropoulos verduidelik, die R6 800 wat as skenkings ontvang is sal steeds uitsluitlik vir hulle opvoeding benut word. Dit sal, wanneer die tweeling dit sou nodig hê, aan hulle skool van keuse oorbetaal word.
Sy het ook bevestig dat 'n anonieme borg tot en met graad 7, R1 500 tot die kinders se skoolfonds sal bydra.
"Ons sal ook voortgaan om die tweeling se opvoedkundige behoeftes in 'n privaat hoedanigheid te ondersteun." Sy het enige persoon wat sal wou bydra hiertoe aangemoedig om dit wel te doen.
"Die tweeling kry baie liefde en hulle ouma Rosemarie maak daagliks telefonies kontak."
Sy het Mosselbaaiers en ander wat na die tweeling uitgereik het, van harte bedank.
"Die tweeling het beide hier en in Stellenbosch, etlike familielede aan Covid-19 afgestaan. Ek is baie trots daarop dat ons as 'n uitgebreide gemeenskap hierdie kindertjies kon bystaan.
"Ons weet hulle mamma het nooit die kans gehad om hulle vas te hou nie, maar ons kan. As 'n gemeenskap kan ons voortgaan om almal wat deur hierdie tragedie geraak is, te ondersteun."
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'