MOSSELBAAI NUUS - Twee persone in die KwaNonqaba-polisiestasie se area was onlangs in afsonderlike voorvalle die slagoffers van gewapende roof.
In die eerste geval is 'n jong vrou in Graanstraat, Aslapark aangeval pas nadat sy van die werk af gekom het.
Die vrou (24), wat by 'n plaaslike restaurant werk, is deur 'n taxi by vriende se huis afgelaai juis omdat sy bang was om alleen en in die donker by haar aan te kom. Toe sy egter by die voordeur aanklop, is sy deur twee gewapende mans oorval.
Hoewel haar vriende haar te hulp gesnel het, het die verdagtes, wat haar met messe gedreig het, haar selfoon, die fooitjies wat sy die aand verdien het en haar juwele gebuit.
Die verdagtes is aan die polisie bekend en inhegtenisnemings word binnekort verwag.
Die ondersoekbeampte is sers Ndala (044 606 5600). Enige persoon met inligting word versoek om die polisie te kontak. Inligting sal streng vertroulik hanteer word.
Deur afgebreek
In 'n tweede voorval in Filikestraat is 'n man, wat daarvoor bekend is dat hy tuis aan rekenaartoerusting werk, aangeval nadat vier mans sy huis se deur om 01:30 op 17 Julie afgeskop het toe hy geweier het om die deur oop te maak.
Die verdagtes het die man (30) met pangas en messe gedreig en hom van rekenaartoerusting en kontant beroof.
In hierdie geval het die KwaNonqaba-polisie wel verdagtes gearresteer. Die ondersoekbeampte is ao Errol Barnard (044 606 5600).
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'