MOSSELBAAI NUUS - Twee gederegistreerde munisipale voertuie sal aan die K9-eenheid gaan vir opleidingsdoeleindes.
Dit volgens 'n item wat in die mees onlangse munisipale raadsvergadering, op 28 November, gedien het.
Die doel van die item was 'n formele versoek om dié twee voertuie, 'n Chevrolet Aveo en 'n Toyota Avanza, aan die K9-eenheid te allokeer.
Volgens die item is dié opleiding noodsaaklik om die operasionele effektiwiteit van die K9-spanne te verbeter.
"Behoorlike opleiding van die hanteerders asook die honde is noodsaaklik tot die sukses van die eenheid.
"Die bogenoemde gederegistreerde voertuie, wat nie meer in diens is nie, sal ideaal wees vir dié doel.
"Die voertuie sal slegs by die K9-opleidingsarea gebruik word," lui die item.
Daar was kommer uit die ACDP se oord oor die padwaardigheid van die voertuie, aangesien hulle gederegistreer word, maar die waarnemende direkteur vir gemeenskapsveiligheid, Henry Williamson, het verduidelik dat die voertuie nie gebruik sal word vir rondry nie, maar vir stilstaande opleidingsoefeninge.
Hy het ook verduidelik dat die voertuie glad nie funksioneel is nie en as onherstelbaar verklaar is.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’