MOSSELBAAI NUUS - Die eerste byeenkoms van Tuine en Tossels vir 2019 is onlangs by Danabaai Kwekery gehou. Hierdie op en wakker groepie vroue staan onder die leiding van Leonie Coetzee en hulle reël interessante uitstappies waar daar nie net saamgekuier word nie, maar ook wenke en raad oor alles wat in tuine aangaan, uitgeruil word.
Die gasspreker vir die dag, was die wandelende ensiklopedie oor tuinsake, tuinboukundige Kobus (Vlam) van Deventer. Voorheen van Bloemfontein, het hy hom nou tuisgemaak in die pragtige Suid-Kaap.
Die vroue het letterlik aan sy lippe gehang en wonderlike raad vir die voorbereiding van die grond vir winter- en somerplante asook wat groei waar en wat pas bymekaar, is met verskillende soorte plantvoorbeelde uit die kwekery gedemonstreer. Na die tyd, het almal heerlik gesmul aan die eetgoed en daar word met opgewondenheid uitgesien na die res van die jaar se bedrywighede.
Verskeie nuwe lede het ook aangesluit om deel van hierdie op en wakker groep vroue te wees waar mens verryk en geïnspireer word.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'