TUINROETE DISTRIKSNUUS - Die toerismebedryf het weens Covid-19 tot ’n stilstand gekom.
“Toerisme min of meer wêreldwyd staan totaal stil,” sê Lodewyk de Klerk wat verskeie toerismebelange het.
“In Suid-Afrika sal toerisme eers weer in November, wanneer die noordelike halfrond se mense vir hul winter begin vlug, na normaal begin terugkeer.”
Maar dis nie ’n uitgemaakte saak dat die buitelandse besoekerstal binne die volgende drie jaar gaan herstel tot waar dit voor die pandemie was nie. “Ons hoop nou maar op binnelandse toerisme, maar hulle maak merendeels gebruik van verblyf en eetplekke, nie toere, vlugte of gehuurde motors nie - dis nou te sê as hulle gaan geld hê om vakansie te hou.”
Besprekings gekanselleer
Anton Roets bedryf ’n gasteplaas wat hoofsaaklik op buitelandse toeriste fokus. “Ons is in ons m... glorie! Elke liewe bespreking tot in Desember is gekanselleer. Ons moes al die deposito’s terugbetaal. Dis ’n ope vraag of vlugte na en van die buiteland teen die middel van die jaar gaan hervat. Ons enigste binnelandse besoekers kom tydens die KKNK hierheen - en dis ook weens Covid-19 gekanselleer.”
Volgens hom loop hulle nou ook erg deur onder diefstal en plunderaars wat die heinings en hekke afbreek. “Die hele plaas is vol strikke gestel - honger gaan mense mal maak!”
Ons wil nie kla nie
Nico du Bois is ’n restauranteienaar. “Uiteraard is die inperking vir ons ’n ramp - geen inkomste en steeds heelwat uitgawes. Maar ons aanvaar die terugslag en is vol vertroue en hoop dat ons weer na normaal sal kan terugkeer. Ons het ons uitgawes nou tot op die been gesny, maar besnoei nie op bemarking nie. Ons wil nie en gaan nie kla nie.”
Hulp vir die bedryf
Intussen het die departement van toerisme ’n hulpfonds van R200 miljoen vir almal in die bedryf ongeag ras beskikbaar gestel.
“Ons toerismebedryf bestaan grotendeels uit klein, mikro- en mediumgrootte besighede met beperkte geld tot hul beskikking,” het Mmamoloko Kubayi-Ngubane, minister van toerisme op Dinsdag 24 Maart gesê toe sy die hulp aangekondig het. “Ons hoop die fonds kan hulle help om na die Covid-19-pandemie voort te bestaan.”
SEB-vereistes
Besighede wat wil aansoek doen, moet voldoen aan die swart ekonomiese bemagtigingsvereistes. Dit beteken dat ten minste 70% van die maatskappy-aandele aan swart persone, 50% aan vroue, 30% aan jongmense en 4% aan gestremdes moet behoort.
Die fonds verskaf ’n eenmalige bedrag van R50 000 vir uitgawes wat te midde van die pandemie aangegaan moet word. Plekke van verblyf, restaurante, konferensiegeriewe, spyseniers, toeroperateurs, en diegende in die motor- of busverhuringsdiens moet voor 30 Mei aansoek doen.
Doen hier aansoek:
www.tourism.gov.za/Pages/COVID19TOURISMRELIEFFUND.aspx
Dear reader, As your local news provider, we have the duty of keeping you factually informed on Covid-19 developments. As you may have noticed, mis- and disinformation (also known as “fake news”) is circulating online. Group Editors (publications and online platforms) is determined to filter through the masses of information doing the rounds and to separate truth from untruth in order to keep you adequately informed. Local newsrooms follow a strict pre-publication fact-checking protocol. A national task team has been established to assist in bringing you credible news reports on Covid-19.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete Distriksnuus'