MOSSELBAAI NUUS - "Weet jy hoekom noem hulle die energiedrankies monster drinks? Want dit kan tieners in monsters verander."
Só meen Stefanie Minnaar, 'n pastorale narratiewe terapeut, wat 'n kenner op die gebied van ouer-tienerverhoudings is.
Sy vertel hoe haar dogter gedurende 'n bepaalde skoolvakansie skielik in 'n "monster" verander het.
"Dit het ons 'n ruk gevat om agter die kap van die byl te kom. Dit was veel meer as die tipiese ongeskikte, liggeraakte, selfsugtige tienergedrag."
Stefanie vertel dat dae nadat haar dogter beken het dat sy tot 04:00 soggens rondrol voor sy aan die slaap raak, sien sy wat Stefanie is toevallig 'n inskrywing op sosiale media wat handel oor hoe energiedrankies slapeloosheid in die hand werk.
Haar 17-jarige het begin Monster drink in die bepaalde vakansie.
"Een van die nadele is dat een 500ml Monster 18 liter water vat om uit jou niere gespoel te word. 'n Volwasse persoon kan tot nege dae neem om soveel water te drink. Daar is gemiddeld 160mg kafeïen in 'n blikkie Monster, gelykstaande aan een en 'n halwe koppie koffie. En hier is die probleem, kafeïen bou op in 'n mens se liggaam. So met 'n Monster elke paar dae, saam met elke dag se twee bekers koffie, is dit geen wonder dat dit slapeloosheid veroorsaak nie."
Sommige mense is boonop meer sensitief vir kafeïen as ander mense.
"Hier is die ding van tieners en slaap. Tieners het 8 -10 ure se slaap nodig vir hul ontwikkelende brein om alle inligting en gebeure van die dag te prosesseer en die inligting vas te lê. Nege-en-sestig persent van tieners kry net sewe ure en minder slaap in elke nag. Hoekom? Behalwe vir die selfoon tot laat in die nag, word die tiener se melatonien (die slaaphormoon) eers twee ure later as 'n volwasse persoon vrygestel."
Stres oor eksamenpunte en koshuistoelating en "wat gaan ek swot" is genoeg om menige tiener in graad 11 en 12 boonop sleg te laat slaap. Gooi nou daarby een of twee blikkies energiedrankies en 'n daaglikse koffie, en jy sit met 'n wesenlike probleem.
Drie-en-twintig persent van tieners lei aan slapeloosheid en meisies word meer hierdeur beïnvloed.
Hoe nou gemaak?
"Dit help nie jy verbied 'n 17-jarige om energiedrankies te drink nie, want as ouer kan en wil niemand die heeltyd polisieman speel nie.
Hy of sy moet self die gevare en nadele besef en verantwoordelikheid neem vir sy of haar eie gesondheid.
Ek het vir my 17-jarige 'n afspraak by die dokter gemaak en vir die dokter gevra dat sy vir haar die absolute noodsaaklikheid van slaap verduidelik.
Die dokter het ook melatonien-aanvulling voorgeskyf vir 'n paar maande sodat my 17-jarige net weer in 'n normale slaappatroon kon kom. Sy besef dat sy nou en dan 'n energiedrankie kan drink en beplan dit mooi."
Besoek Stefanie se Facebookblad Ouer-Tiener Harmonie. Kontak Caritas Care - Mosselbaai 071 473 0507) en George (072 352 7610).
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'