MOSSELBAAI NUUS - Stefanie Minnaar, pastorale narratiewe terapeut en kenner op die gebied van ouer-en-tienerverhoudings verduidelik waarom hierdie jongmense nie altyd hulle ouer so goed hoor.
Sy vertel dat sy en haar 16-jarige op pad na die George-lughawe toe saam in die motor na sy musiek luister.
"Ek praat met hom en die mannetjie ignoreer my blatant.
Ek gee hom 'n stamp op die skouer en sê, 'Hoor jy ek praat met jou?'. Hy antwoord: 'Nee Mamma, ek doen klaar twee goed'. Ek verstaan nie en vra wat hy bedoel.
Hy antwoord dat sy brein slegs twee dinge op een slag kan doen. Dadelik wou ek weet, nou watter twee goed dit sou wees. En hy antwoord: 'Ek luister musiek en ek kyk vir die natuur'. En net daar besef ek dit is waar," vertel Stefanie.
Tieners verloor die helfte van hul brein hier rondom 15- of 16-jarige ouderdom.
Volgens Stefanie word dit letterlik synaptic pruning genoem. Met geboorte is daar min konneksies in die brein. Dan word die kind soos 'n spons wat inligting absorbeer met doen en vrae vra soos "hoekom, hoe, wat nou"?
Teen sewe jaar is daar duisende konneksies wat gevorm is. Dan 15/16 verloor die kind die helfte van hierdie konneksies.
"Wat verloor hy of sy? Al die konneksies wat hy nie meer gebruik nie. As hy byvoorbeeld klavierlesse gehad het as jonger kind en opgehou het daarmee, verloor hy daardie konneksie. As 'n tiener goed as volwassene goed wil wees in 'n vaardigheid, soos om klavier te speel, moet hy dit deur sy tienerjare ook speel."
Die positiewe ding, brei Stefanie uit, is die ontwikkeling van die frontale korteks.
"Dit word ook die CEO of hoof-uitvoerende beampte van die brein genoem.
Die CEO beheer emosies en impulsiwiteit en help die tiener om soos 'n volwassene te begin optree, maar hierdie vaardigheid is eers rondom 25 - 30 jaar klaar ontwikkel. Jy kan nie van jou tiener verwag om soos 'n volwassene op te tree nie. Sy of haar brein is nog onder konstruksie."
Besoek Stefanie se Facebookblad Ouer-Tiener Harmonie. Kontak Caritas Care - Mosselbaai 071 473 0507) en George (072 352 7610).
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'