MOSSELBAAI NUUS - Puberteit binne die tiener se brein begin 'n jaar voor puberteit die liggaam begin verander.
Stefanie Minnaar van Caritas Care, 'n sentrum vir pastorale terapie, bied 'n reeks artikels waarin sy hierdie interessante fase in groeiende kinders se lewens, sinvol verpak.
Sy spesialiseer daarin om met ouers van tieners te werk.
'n Vriendelike, vrolike, behulpsame 12- of 13-jarige wat oral saam met jou wou gaan, veral om te gaan bruismelk drink, verander oornag in 'n kwaai, ongeskikte 13- tot 14-jarige.
Mens ervaar jou tieners skielik as 'n vreemde wese wat tog net nie saam met jou gesien wil word nie, wat nog te sê van bruismelk drink.
Maar wat het dan gebeur? Hier is wat tydens puberteit gebeur.
Daar is 'n ontploffing van 'n spektrum emosies as gevolg van die verandering in die tiener se brein.
Alle emosies word intens beleef. Dit is 'n natuurlike proses en ook die begin van die tiener se "wegtrek" van die ouer.
Hierdie proses berei die tiener voor om die nes te wil verlaat 'n paar jaar later.
Skielik irriteer die tiener se "nessie" hom of haar verskriklik. Hulle sal tipies goed kwytraak soos: "Hier is GEEN privaatheid in die huis nie!" of "Moet Mamma so hard asemhaal?"
Tieners het nou meer spasie en privaatheid nodig, maar ouers moet betrokke bly deur kommunikasie en die tiener ondersteun in die storm-en-drang-jare.
Dit is belangrik dat die ouer die tiener spasie gee om al sy of haar emosies te kan voel.
Dit help as ouers die volgende onthou: This is not about me en Zip my lips.
Drie frases wat elke ouer van 'n tiener moet weet en moet onthou:
- Wanneer jou tiener iets sê wat hy nie moes sê nie, maak dan of jy dit nie gehoor het nie en gee jou tiener kans om weer te probeer.
- Wanneer 'n tiener "af" lyk en kla oor iets, antwoord dalk ondersteunend met "Ja man, dít suck".
- Wanneer jou tiener sukkel met iets en jy wil help: "Is daar enigiets wat ek kan doen wat dit nie erger gaan maak nie?"
Besoek Stefanie se Facebookblad Ouer-Tiener Harmonie. Kontak Caritas Care - Mosselbaai (071 473 0507) en George (072 352 7610).
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'