MOSSELBAAI NUUS - Die week is daar heelwat tieners wat met groot teleurstelling na hul matriekuitslae kyk. Baie van dié kinders sit ook in vrees oor wat hul ouers gaan sê oor die punte wat nie na wense is nie.
Dan is daar ook ‘n handjievol tieners wat se universiteitsdroom daarmee heen is…wat met hul gr 11-rapport voorlopige keuring gekry het, maar nou nie die paal gehaal het met hul matriekuitslae nie.
Stefanie Minnaar is 'n pastorale narratiewe terapeut. Sy sê: "In 2019 woon ek ‘n praatjie van Graeme Codrington in George by. Sy besigheid se naam is Tomorrow, Today. Graeme Codrington is “An expert on the future of work and the disruptive forces that are shaping it”. Die aand by sy praatjie, in George, staan Codrington voor die klomp matrieks wat daar in die saal sit en sê vir hulle: die kans is goed dat 80% van hulle 100 jaar en ouer gaan word.
"Dan draai hy na waar die ouers sit en sê dat ouers in vandag se tyd moet vrede maak dat ons kinders dalk heelwat langer in ons huise gaan bly na skool, as enige generasie voor ons.
En dat ouers nie die jong volwassenes in ‘n rigting moet indwing nie.
Verder sê hy ook dat as ‘n jong volwassene eers rondom 25 jarige ouderdom weet presies in watter rigting hul wil ingaan, dié jongmens nog 75 jaar gaan leef waar hy sy beroep kan beoefen.
"So liewe ouer, vandag wil ek jou vra om mooi op jou taal te let wanneer jy ‘n gesprek met jou kind gaan hê oor sy swak/ker uitslae."
Minaar sê: "Moet asseblief nie met jou taalgebruik jou kind se hoop vir die toekoms wegvat nie. Daar is altyd ‘n plan om te maak."
Indien jy en jou kind emosionele ondersteuning nodig het om deur teleurstellende uitslae te werk, of andersins ‘n gesprek wil hê oor hoe nou gemaak, kontak gerus vir Caritas Care op 073 648 4346, waarna ‘n pastorale narratiewe terapeut kontak sal maak met jou.
"Weet net, jy is nie alleen nie."
Sluit gerus aan by Minnaar se Ouer-Tiener Harmonie facebook-groep.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'