MOSSELBAAI NUUS - Wes-Kaapse provinsiale LUR van vervoer en openbare werke, minister Daylin Mitchell het op Maandag, 7 Maart in Mosselbaai 'n baie suksesvolle vergadering met plaaslike verteenwoordigers van die onderskeie taxi-verenigings gehou.
Burgemeester Dirk Kotzé is deur die taxi-verenigings as 'n man van sy woord voorgehou en bedank vir sy bemiddeling om die vergadering moontlik te maak.
Die taxi-verteenwoordigers het benadruk dat daar, sover bekend, slegs in Mosselbaai 'n taxi-skakelkomitee bestaan wat maandeliks met die munisipaliteit byeenkom om oor kwessies te beraadslaag.
"Dit is die rede, minister, waarom daar nie taxigevegte en wanorde in ons dorp is nie," aldus mnr Lamani - ondervoorsitter SANTAGO.
Verskeie kwessies is aangeraak, onder meer 'n behoefte dat ontwikkelaars van winkelsentrums met die taxi-verenigings moet skakel sodat behoorlike fasiliteite vir pendelaars tydig beplan kan word.
Die verteenwoordigers, mnre Lamani - ondervoorsitter SANTAGO; Bizwapi - voorsitter UNCEDO; Bokuva - voorsitter MOBTA; Brandt - ondervoorsitter MOBTA en Mlahlwa - sekretaris UNCEDO het die behoefte aan verbeterde taxi-staanplekke in die dorp gestel.
Minister Mitchell het sy dank teenoor die taxi-verenigings en die munisipaliteit uitgespreek vir die goeie verhoudinge en die wyse waarop saamgewerk word om die verhoudinge tot voordeel van die dorp uit te brei.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'