MOSSELBAAI NUUS - Die Mossel Bay Advertiser het 'n klagte ontvang van olie wat gestort is in 'n drein en op die sypaadjie in Depotweg tussen Nestlé en die Langeberg Mall.
Volgens die klaagster is 'n taxi se olie vermoedelik daar op die sypaadjie afgetap, in die stormwaterdrein afgegooi terwyl daar ook op die sypaadjie gemors is.
Buiten die bestaande taxi-staanplek wat beskikbaar is, is daar volgens die klaagster soms nie eers plek om verby die groot aantal taxi's te ry.
Dit gebeur veral gedurende spitstye wanneer pendelaars af- en opgelaai word en vóór en ná werk. Taxi's gebruik ook die sypaadjies om lukraak te parkeer terwyl rommelstrooiery algemeen is.
Munisipaliteit reageer
Die Mosselbaai-munisipaliteit se verkeersdiens is nie bewus van 'n klagte waar motorolie in Depotweg deur minibus-taxi's afgetap word nie. Die munisipaliteit neem egter kennis van die klagte en sal dit verder ondersoek.
Wat betref die klagtes aangaande parkering van minibus-taxis in Depotweg en die strooi van rommel, word dié klagtes periodiek opgevolg en waar oortreders aanwesig is, word opgetree. Die munisipaliteit moedig lede van die publiek aan om enige klagtes te rapporteer deur 044 606 5000 te skakel, of 'n e-pos na admin@mosselbay.gov.za te stuur.
'n Uiters gerieflike en vinnige manier op 'n diensleweringsklagte deur te gee en dit met foto's en videomateriaal te kan staaf, is om die munisipale slimfoontoepassing, Collab Citizen, te gebruik. Dié toepassing kan afgelaai word by Huawei AppGallery, iPhone App Store of Google Play Store.
Mosselbaai Taxi Assossiasie
Volgens Sipho Bokuva, voorsitter van die Mosselbaai Taxi Assosiasie, bied die bestaande taxi-staanplek net sowat agt staanplekke op 'n slag vir taxi's en is daar met tye tot 50 taxi's. Bokuva sê dat die olie wat daar gemors is 'n eenmalige gebeurtenis was en hopelik nie weer sal gebeur nie.
Hul grootste probleem tans is dat daar egter geen toiletgeriewe by die staanplek is nie en dat taxi-bestuurders en pendelaars die Langeberg Mall se fasiliteite moet gebruik.
Volgens 'n klaagster word olie op sypaadjies afgetap en in die dreine afgegooi of op sypaadjies gemors.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’