MOSSELBAAI NUUS - 'n Inwoner van Heiderand, Marie Schäfer (91), besit waarskynlik die grootste posseëlversameling in die hele Mosselbaai-gebied.
Toe Mossel Bay Advertiser haar by haar woning besoek, was dit gou duidelik waarom: sy het letterlik duisende - derduisende - seëls, elkeen met sy eie verhaal.
Om saam met haar tussen die lêers te sit voel soos om op 'n wêreldreis te gaan.
"En dis inderdaad so," lag Schäfer, "want die geskiedenis van 'n land lê opgesluit in sy seëls."
Haar indrukwekkende versameling bevat alles van die eerste seël ooit, die bekende Penny Black, tot 'n 22-karaat goue reeks wat sy jare gelede van 'n verpleegster ontvang het.
Hierdie pragtige koevert en seël wat na 1996 terugdateer is ook in Schäfer se versameling. Foto: Louise Karsten
'n Hele kabinet vol lêers getuig van haar lewenslange passie, met seëls van Brittanje tot Suid-Afrika en talle ander lande regoor die wêreld.
Behalwe vir seëls het Schäfer ook 'n unieke versameling koeverte wat sy sê dikwels selfs meer werd is as die seëls self.
Schäfer het in 2024 van Keimoes na Mosselbaai verhuis om nader aan haar dogter in Danabaai te wees. Sy sê die Mosselbaaiers se vriendelikheid het haar tuis laat voel.
Haar liefde vir seëls het reeds op skool begin, en haar oorlede man het die passie met haar gedeel. "Ek het eendag 'n pragtige Suid-Afrikaanse seël van die Voortrekkers gesien, en dadelik besluit ek móét dit hê," vertel sy.
Vandaar het die versameling net bly groei. Sedert 1981 versamel sy aktief.
Elke tweede Maandag van die maand woon Schäfer die byeenkomste van die Posboom-filatelievereniging by, wat in die St. Peter's-kerksaal in Marshstraat byeenkom. "Dis heerlik," sê sy, "want elke keer deel iemand iets besonders oor 'n seël."
Hoewel haar versameling besonder volledig is, is daar één seël wat sy steeds soek: 'n Suidwes-Afrika-seël van 1954.
"Ek soek dit met 'n seer hart," sê sy. "Ek het die gebruiktes, maar nie die oorspronklike ongebruikte een nie."
Onthou jy nog Nasionale Seëldag? Foto: Louise Karsten
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’