MOSSELBAAI NUUS - Die NG Mosselbaai-Suid gemeente hou vandag, Vrydag 24 Maart, weer ‘n lekker basaar in hul kerksaal in 15de Laan, Mosselbaai.
Dit beloof om soos in die verlede, ‘n heerlike feesgeleentheid met talle verrassings te wees. Die basaar begin om 17:30 sodat diegene wat werk dit ook kan bywoon.
Die volgende etes kan vooraf per Whatsapp bestel word: blokkies kerrie en rys, kerrie-vetkoeke, jafels, boereworsrolle, sosaties, hoenderburgers en ribburgers – stuur jou naam en van met jou bestelling na Lezelda (083 210 3057).
Vir die kinders is daar ‘n kindertafel met eetgoed en interessanthede wat nét by ‘n basaar gekoop kan word. Die aktiwiteite vir die kinders begin om 17:00.
Allerhande lekker eetgoed soos pasteie, pannekoek, basaarpoeding en drinkgoed sal te koop wees. Daar is ook ‘n wit-olifanttafel waar die versamelaar interessanthede teen billike pryse kan opraap.
As jy op soek is na ‘n interessante oudheid of ‘n baie billike prys vir gebruiksitems mag jy dit dalk ook daar vind.
Die basaar bied ook ‘n marktafel waar gebruikte tydlose boeke en tydskrifte verkoop word, asook inmaakprodukte en besondere geskenkies. Ander wegneem-eetgoed soos kleinkoekies, terte, groot koeke, koeksisters, tuisgemaakte lekkers en brood en beskuit sal ook te koop aangebied word.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'