MOSSELBAAI NUUS - Dit is nie aldag dat vroue vurige boksondersteuners is nie, maar jy sal ver soek om iemand te kry wat meer van boks hou as Corrie van Heerden.
Corrie (82) vandag 'n inwoner van Hartenbos-versorgingsoord, was getroud met Hottie (Gert) van Heerden, eertydse Suid-Afrikaanse middelgewig- en ligte swaargewig-bokskampioen in die sestigerjare.
Deur baie onthou as die "stout seun" van die Suid-Afrikaanse bokswêreld, is hy vir Corrie vandag nog steeds "haar Hottie".
Sy verduidelik dat Hottie sy naam van "hotklou"gekry het. Corrie, 'n boorling van Vryburg in die Noord-Kaap, het glo altyd graag saam met haar pa gaan boks kyk in Johannesburg.
"Die boksgevegte is altyd daar by Ellis Park gehou. Op Saterdagmiddae," onthou sy met 'n vonkel in die oog. Sy beken dat sy altyd vér meer van boks as van rugby gehou het. "Ek hou van skoon boks. Hulle moet mekaar net nie uitslaan nie. Nou nog, as daar boks op die televisie is, kry jy my nie daar weg nie."
Corrie het Hottie deur die Toweels, 'n bekende familie in bokskringe, ontmoet. Sy sê sy was nooit bang as Hottie in die kryt klim nie. "Ek het vertroue in hom gehad. Die mense het altyd so geskree by die boksgevegte," vertel sy. Sy beduie dat Hottie se naam behoorlik deur sy aanhangers gedreunsing is.
Corrie meen dis daardie uitklophou wat Happy Pieterse, eertydse SA liggewig-bokskampioen Hottie gegee het, wat sy latere gesondheidsprobleme veroorsaak het. In 'n lêer vol koerantuitknipsels beduie sy van die bloeding op die brein wat hy ontwikkel het en hoe daar tydens 'n seldsame operasie 'n spesiale pompie vir hom ingebou moes word om die drukking op die brein te verlig. Ander foto's wys 'n jong Hottie in sy fleur met Corrie aan sy sy. Sy glimlag terwyl sy daardeur blaai.
Na sy aftrede, het Hottie 'n paar boksers opgelei en later in die bediening betrokke geraak.
* Vir meer oor hierdie bokslegende se loopbaan, lees ook http://adtest.supersport.com/boxing/blogs/ron-jackson-ii/Hottie_Bad_boy_good_fighter
Corrie van Heerden saam met haar dogter, Charmain Brits.
Hottie en Corrie voor hulle getroud is.
Corrie by Hottie na sy destyds seldsame breinoperasie.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'