Gallery Update Video
MOSSELBAAI NUUS - Die bekende of eintlik berugte twee moordwalvisse (Orcas), "Starboard" en "Port", is sedert vroëer vandeesweek weer in die Mosselbaai-area bedrywig gewees. 'n Haai is op jag gemaak en aangeval. Nog 'n dooie haai het uitgespoel.
Dié twee Orcas is só gedoop omdat die een se dorsale vin na links (Port) val en die ander een se vin na regs (Starboard) oorhel.
In Afrikaanse idiome word na dié Engelse bewoording verwys as na "bakboord en stuurboord gestuur", wat maklik kan beteken doelloos rondgestuur.
Dié twee Orcas is danksy opgetekende inligting vir die eerste keer in 2015 naby Kaapstad opgemerk, maar volgens oorlewing is hulle reeds vir jare van Namibië tot by Gqeberha in die Oos-Kaap in aksie en jag as 'n kombinasie.
Die lewer van haaie, wat in sekere spesies tot 'n derde van die gewig van dié roofvis kan uitmaak, is klaarblyklik die hoofteiken vir Orcas. Haaie se lewers is ryk aan voedingstowwe en olies.
Traumatiese ondervinding
Anders as ander Orcas is "Starboard" en "Port" bekend daarvoor dat hulle naby aan die kus jag. Nie hulle natuurlike omgewing nie.
Die feit dat dié twee Orcas se dorsale vinne na links of regs oorhel en nie regop staan soos onder normale omstandighede nie, dui daarop dat hulle op die een of ander manier aan 'n traumatiese ondervinding onderworpe was.
Wat Orcas betref is daar egter nog ontstettend baie navorsing te doen.
Walviskykers was verras om dié twee die afgelope Sondag in die baai naby Rob-eiland, te sien baljaar. Volgens Christiaan Stopforth van Drone Fanatics, wat die twee van 'n boot verfilm het, het die Orcas jag gemaak op 'n groot witdoodhaai van ongeveer 2.5-meter.
FOTOGALERY: Orcas of Moordwalvisse, weer in Mosselbaai
Vin-identifikasie
'n Ander witdoodhaai-karkas van 2.9-meter het Maandagoggend op die strand by die Hartenbos-riviermond uitgespoel. Volgens Nico Booyens, marine-bioloog en direkteur van die Haai-Navorsingsinstituut op Mosselbaai, kon hulle deur vin-identifikasie bepaal dat dit twee verskillende witdoodhaaie is.
Die karkas wat uitgespoel het, gaan deur die department van visserye en bosbou gedissekteer word om die presiese oorsaak van dood vas te stel.
Booyens sê dat Orcas wat haaie aanval 'n natuurlike verskynsel is, maar dat die verlies van die bedreigde groot witdoodhaaie, kommerwekkend is.
Volgens hom het die sowat 70 witdoodhaaie, wat gewoonlik in die area is, reeds uit die gebied beweeg.
Na wat verneem word is "Starboard" en "Port" ook nie weer gesien nie, maar dit kan aan die stormagtige see toegeskryf word.
VIDEO: Nico Booyens, dir. Haai-instituut in Mosselbaai
Vorige artikel: Starboard en Port saai reeds amok
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’