MOSSELBAAI NUUS - Op 16 Februarie het die gelukkige wenneer van Virseker en Mosselbaai Toerisme se Stap-en-Ontspan kompetisie, Daleen Lloyd, saam met twee van haar dogters op die Tuinroete aangeland.
Die gesogte prys? 'n Staptog deur die lieflike Klein-Karoo Hartland saam met voetslaner extraordinaire Erns Grundling, gevolg deur 'n week van bederfies gereël deur die Iconic Mossel Bay-span.
Die kompetisie is geloods in samewerking met die kykNET-reeks Elders. DStv-kanaal 144 het teen Julie 2022 reeds die SAFTA-bekroonde program se vyfde suksesvolle seisoen begin uitsaai – hoeka met 'n fokus op die Tuinroete.
Tydens daardie reeks van 13 episodes, het Erns en sy kameraspan meer as 270km gedek tussen Uniondale en Mosselbaai.
Voor vandeesmaand se brawe stappers die pad vanaf Luvain gasteplaas aangepak het, het Erns laat weet: "Ek sien uit daarna om die wenner en haar twee dogters oor die volgende agt dae te lei en vir hulle die pragtige area en wonderlike mense van hier tot in Mosselbaai te wys. Ons begin die stap in heerlike koel weer."
Daleen en haar dogters Natasha en Chantelle volg saam met Erns die Tuinroete se Pelgrimstog van Hoop-roete.
En jy kan daarop reken dat die stapgeselskap nie net oorstelp sal wees by aansig van die wonderskone natuur wat hul deurentyd omring nie, maar ook deur die dorpies en mense wat oor hul pad sal kom voordat hulle op 24 Februarie die Cape St Blaize-vuurtoring in Mosselbaai bereik.
Na hul aand by Luvain het Erns & Kie tot by Heimersrivier gestap en by Nature's Rest oornag, op 18 Februarie is daar gestap van Heimersrivier tot by Klipdrift se Zebra Farmhouse; op Sondag die 19de was Herold en sy Over the Mountain gastehuis die mikpunt, en die res van die week word daar deur groter dorpe gestap.
George se NG Moederkerk Pastorie is Maandag se eindbestemming, en van daar neem hul reisplan vir Erns en die Lloyds verby Geelhoutboom op 21 Februarie, Groot-Brakrivier op 22 Februarie en Hartenbos op 23 Februarie, voordat hul voortmarsjeer Mosselbaai toe.
Hulle sal vroegmiddag vandag, 24 Februarie by die historiese Cape St Blaize-vuurtoring die 'Stap' deel van hul reis afsluit.
Volg gerus Erns & Kie se vordering hier op sosiale media: #virseker #stapenontspan #elders #kyknet #visitmosselbay #iconicmosselbay #mosselbay #capetownmag #eatplaystayexplore #pelgrimstogvanhoop #pilgrimageofhope #pelgrimstogvanhooptuinroete #pilgrimassist
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'