MOSSELBAAI NUUS - Die energieke Mike D'Elboux (65), bekend as 'n ware familie- en gemeenskapsman, is op 6 Januarie tuis aan 'n hartaanval oorlede.
D'Elboux het na 26 jaar diens by PetroSA as 'n elektriese tegnikus op 61 afgetree, maar het allermins tydens sy aftrede stilgesit.
Hy was 'n gewilde videograaf en het veral sy staal gewys in sy betrokkenheid by die buurtwag in sentraal Mosselbaai.
Volgens Leon van Dyk, munisipale raadslid en buurtwagvoorsitter van die Bo-Dorp-buurtwag was D'Elboux "'n staatmaker duisend". "Mike was presies en het baie meer gedoen as wat normaalweg verwag is. Jy kon enige taak aan hom toevertrou en altyd 'n positiewe uitset verwag. Altyd was daar tyd, nog 'n bietjie energie en nog 'n inset om te lewer. Altyd 'n sin vir humor. Hy was 'n lojale vriend en bondgenoot deur dik en dun."
D'Elboux sal ook onthou word vir sy werk in terme van die beveiliging van die St Blaize-staproete waar voetpatrollies gedoen is om stappers se veiligheid te verbeter.
By die NG Suid-gemeente was hy ook bedrywig met verskeie projekte, onder meer klank- en videoproduksie, asook algemene instandhouding. Hy was 43 jaar lank met Tjokkie getroud. Saam met die egpaar altyd tyd vir familie gemaak.
Een van D'Elboux se gunstelingdinge om te doen, was om tyd saam met sy kleinkinders te spandeer. Sy kleinkinders was sy trots en hy het gereeld saam met hulle gaan fietsry.
Mike D'Elboux was bekend vir sy lewenslus.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'