MOSSELBAAI NUUS - Die Mossel Bay Community Soup Drive, voorheen bekend as die Paul M Draay-sopkombuis, is nou meer vasberade as ooit om die lewe vir ander 'n bietjie meer draaglik te maak.
Dié sopkombuis het in 2019 sy beslag gekry en lewer tans 'n broodnodige diens in die gemeenskap.
Volgens William Sam, een van die stigterslede, bedryf hierdie geregistreerde nie-winsgewende organisasie weekliks drie sopkombuise.
Dit word reeds 'n geruime tyd bedryf in Civic en Highway Park, waarna die area genaamd Blok 5, geleë agter die kantore vir die polisie se eenheid vir gesinsgeweld, kindermishandeling en seksuele misdrywe in Adriaanslaan, bygevoeg is.
Sam verduidelik dat hulle die afgelope drie maande op Woensdae tot 'n 100 kinders in Blok 5 voed. Op Donderdae word tussen 450-500 kinders in hulle ander bedieningsarea van 'n maaltyd voorsien.
Samewerking
Milton Fillies het onlangs by die organisasie aangesluit en tree tans as beskermheer daarvan op. Hy bevestig dat meeste van die organisasie se skenkings van buite Mosselbaai ontvang word.
"Ons sal graag wil sien dat ons gemeenskap en sakelui plaaslik inkoop in waarmee ons besig is." Fillies sê dat die organisasie ten doel het om met ander bestaande sopkombuise saam te werk sodat hulle 'n groter impak in die gemeenskap kan bewerkstellig.
"Volhoubaarheid wat sopkombuise betref is altyd 'n uitdaging, maar as ons saam werk, het ons beslis meer hulpbronne." Fillies het 'n broertjie dood aan wat hy noem mushroom sopkombuise.
Filies spreek hom skerp uit teen diegene wat al onder die naam van die Mossel Bay Community Soup Drive fondswerwing gedoen en borgskappe gesoek het.
"Ons wil met betroubare, eerbare mense saamwerk. Kontak ons direk ons sal self die skenkings kom haal."
Hy se dat hulle graag in die toekoms ook die spyskaart by hulle sopkombuise sou wou aanpas om meer variasie in te sluit.
Sam sê dat die organisasie oral probeer betrokke raak waar daar nood is.
So reik hulle ook uit na byvoorbeeld brandslagoffers en het hulle ook 'n ouetehuis, Karos Haven waar 15 seniors tuisgaan, onder hulle vlerk geneem.
Straatpartytjie
In 2019, het die organisasie die jaar afgesluit met 'n straatpartytjie waartydens die kinders van Civic Park Kersfees kon vier. Learjetstraat is toegemaak en 'n opvoedkundige en vermaaklikheidsprogram is aangebied. Verlede jaar, vanwee Covid-19 moes die feesvieringe op ys gesit word. Die kinders het wel elkeen 'n Kerspakkie ontvang. Maar vanjaar is die straatpartytjie terug met mening.
"Ons het sedert die begin van die jaar al skenkings ontvang."
Daar is geskenkies vir seuns en meisies, maar die groot geskenk is eintlik die 1 000 Bybels wat geskenk is.
"Hierdeur sal kinders ook leer oor die betekenis van Kersfees. Ons het vanjaar ook 'n verhoog met plaaslike kunstenaars wat optree en Daantjie Kat kom gesels oor padveiligheid.
"Verder kan die jongklomp op springkastele baljaar. Die geleentheid begin 12:00 en eindig 18:00."
Met die somermaande voor hande, het hulle groot behoefte daaraan dat die kinders ook oor waterveiligheid touwys gemaak moet word.
"Ons benodig so 50 vrywilligers tydens die straatpartytjie, omdat ons steeds Covid-19-maatreëls moet toepas."
Sam noem dat hulle graag ook 'n Kerspartytjie wil hou vir die oues van Karos Haven.
"Enigiemand wat betrokke wil raak kan ons gerus kontak." Fillies voeg by dat daar twee rolstoelgebonde persone is wat groot behoefte aan weggooibare doeke het.
Vir meer inligting, kontak William Sam (082 387 6340).
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'