Update
DANABAAI NUUS - Dit is reeds meer as twee weke sedert ’n Alaskan Malamute-hond, Nevada (5), in Danabaai verdwyn het.
Sy eienaar, Elbie van der Merwe, sê die soektog duur intensief voort.
Nevada, wat pas saam met sy sussie van ’n teler in Johannesburg aangekoop is, het op sy eerste dag,
Maandag 16 Junie, in Danabaai uit die voertuig geklim, vir iets geskrik en die pad in die digte groenstrook in gevat.
Hy is vreemd vir die gebied en omgewing.
Van der Merwe sê hulle het sedertdien nie moed opgegee nie en gebruik gevorderde soekmetodes in die hoop om hom veilig huis toe te bring.
Grethe Vrey, ’n opspoorder, die snuffelhond VonEdinstven Seven, en opspoorder Jeanne Murray help in die soektog na Nevada.
“Ons het al hommeltuie gebruik en selfs ’n opgeleide snuffelhond uit Knysna laat kom,” sê sy.
Van der Merwe sê die snuffelhond het Nevada se spoor inderdaad opgetel en hulle kon hom met ’n verkyker in die bosse sien.
“Maar die gebied is byna onbegaanbaar en ruig. Nevada is skaam en bang. Hy beweeg heeltyd weg sodra hy enige geluide hoor.”
Hulle het kos en water op ’n sekere plek in die bosse uitgesit en Nevada eet en drink glo daarvan. Die snuffelhond het ook sy spoor by die kosbak opgetel.
Van der Merwe het vroeër dié week Nevada se teler van Johannesburg na Danabaai ingevlieg in die hoop dat die hond na die teler se stem sal luister.
Hulle het ’n stemboodskap opgeneem waarop die teler na Nevada roep en dit oor ’n luidspreker in die bosse gespeel. Ook dit was tevergeefs.
Nevada se spoor en hare is in hierdie gebied opgetel.
Van der Merwe sê hulle sal nie ophou probeer om die hond gevang te kry nie. Die volgende stap is om ’n vanghok te stel en Nevada só te probeer vang.
Sy bedank die publiek en Danabaaiers vir hulle boodskappe. Sy sê hulle wil op hierdie stadium nog vermy dat daar ’n toeloop van mense is wat help om na Nevada te soek, omdat hy bang is en nie na mense toe sal kom nie.
“Ek weet waar hy is, en solank hy eet en drink kan hy ’n geruime tyd so oorleef. Ons hoop om hom so gou as moontlik te kry.”
Vorige artikel:
Eienaar soek na nuwe hond wat in Danabaai verdwyn
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’