As daar nou iets is wat jy nie die dag ná jou troue wil verloor nie, is dit sekerlik jou trouring.
Vir sowat twee ure op Saterdag, 22 Maart, het Tiaan Bosch gedink dít is dalk sy lot.
Tiaan en sy vrou, Christasha, 'n paartjie van Bapsfontein in Gauteng, het op 21 Maart hul droom-plaastroue - kompleet met bokdrolkonfettie - by Outeniquabosch Lodge and Venue gehad.
Vir hul wittebrood bly hulle op De Rust, maar het Saterdag besluit om bietjie tyd op Klein-Brakrivier te spandeer saam met Tiaan se ouers, Kobus en Estelle.
Die pasgetroudes was besig om vir mekaar 'n bal in Klein Brak se riviermond te gooi toe Tiaan se ring met een van die gooie daarmee heen is.
"Ons almal se harte was stukkend," sê Christasha. Die gedagte daaraan om hom te moet vervang het haar sommer tranerig gemaak.
"Ons was gedruk vir tyd om 'n ring te kon kry en in die hele George was daardie die enigste een wat hom gepas het, alhoewel die koue water nou mens se vingers bietjie kleiner maak...
Christasha en Tiaan se trouringe.
"En met die sentiment dat ons ons beloftes aan mekaar gemaak het met dié ring, sou enige ander ring nie dieselfde gewees het nie."
Maar so staan hulle in Klein Brak se koue water en wonder, wat nou?
"Soos ek op kyk met oë vol trane, sien ons daar stap iemand met 'n metaalverklikker."
Oom Bennie Coetzee het nou dalk nie 'n wit perd nie, maar daardie dag was hy hulle ridder met 'n metaalverklikker.
Tiaan se pa het vir Coetzee genader en gevra of hy nie dalk 'n kans kan vat om te kyk of hy iets kry nie.
"Ná omtrent twee ure se gesoek, baie gebede, hoop, hoë pols, in daai yskoue water, piep daai masjien en Oom Bennie lig sy grafie op en daar haal hy die ring uit!
Oom Bennie Coetzee en Christasha Bosch oomblikke ná die ring gevind is.
"Ek kon sweer ek het op die water gehardloop na hom toe," sê 'n dankbare Christasha.
"Ná alles toe vra ek vir Oom Bennie wat kan ek vir hom gee of doen, toe sê hy my geluk en blydskap is genoeg. Ons sal hom nooit vergeet nie.
"Oom Bennie, dankie vir oom se geduld en dat die Here daai dag vir oom gesê het om op die strand te gaan loop."
Die pasgetroude paartjie met hul troudag by Outeniquabosch Lodge and Venue. Foto: Lelani Paulsmeier/Studio K
Tiaan spog met sy ring by die strooimeisies, Sanja Wessels en Bea Louw. Foto: Lelani Paulsmeier/Studio K
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’