MOSSELBAAI NUUS - Barrie Barnard bekende slangvanger van die omgewing gesels op 10 Maart met die lede van die Midbrak-tuinbouklub.
Barrie het sy "liefde" om met slange te werk by sy pa gekry. Hý was ook 'n slangvanger in die Simonstad-omgewing.
Barrie vang "probleemslange", wat hy dan in die natuur naby water en voedsel vrylaat. Hy sê hy moes wag tot hy op pensioen gegaan het om 'n slangvanger te word, aangesien hierdie liefdestaak eintlik 'n voltydse saak is.
Oproepe moet so gou moontlik opgevolg word. Sodoende word verhoed dat mense gepik word en kan die slang boonop in 'n veiliger omgewing teruggeplaas word. Hy vertel dat hy al twee uur in die nag 'n pofadder uit 'n waskamer, en tienuur in die aand 'n Kaapse kobra uit 'n aantrekkamer moes gaan haal.
Om slange te kan vang het 'n persoon goeie opleiding deur middel van relevante kursusse en 'n lisensie, uitgereik deur Cape Nature, nodig.
Lisensies word jaarliks hernu en die nuwe aansoek moet vergesel word van 'n opsomming van die jaar se vangste. Wanneer Barrie praatjies aanbied, neem hy nie noodwendig slange saam nie.
Daar is verskeie redes hiervoor:
- Slegs slange wat in aanhouding gebore is, mag gebruik word by lesings
- Slange wat in die natuur gevang word se gedrag is nie altyd voorspelbaar nie.
- 'n Spesiale lisensie is nodig om slange aan te hou.
- Slange moet teen spesifieke temperature aangehou word.
- Net soos enige ander troeteldier het slange baie aandag en sorg nodig.
Hy kan wel reël vir 'n paar slange teen 'n ekstra koste, indien 'n groep dit verlang.
Barrie gesels op 10 Maart met die Midbrak-tuinbouklub, die koste is R30 per persoon. Belangstellendes kan Annelie (081 393 3862 of 071 694 5494) vir padaanwysings kontak.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'