MOSSELBAAI NUUS - Lekker musiek, heerlike kos, 'n feestelike atmosfeer en hope pret - dis waarna alle Mosselbaaiers kan uitsien wanneer die Kwêla Dorp van die Jaar-toekenning tydens die groot, gratis Makietie behoorlik gevier gaan word.
Dagboek daarom nou reeds 7 Oktober en maak gereed om die ganse dag te kom partytjie hou. Kwêla-aanbieder Therese Benade en die Kwêla-span gaan saam met inwoners die dag spandeer om die gesogte toekenning te vier. Boonop gaan hulle 'n insetsel oor die feesvieringe opneem wat op 22 Oktober uitgesaai sal word.
Kwêla gaan, as deel van die eerste prys, top vermaakliheidskunstenaars na Mosselbaai bring en daar gaan tot laataand gekuier word.
Terselfdertyd loop Mosselbaai se Sportfees daardie dag ten einde, en is dit die gepaste geleentheid om na die dae van intense sport behoorlik te kom ontspan.
Benade en Nelius Ferreira het vandeesweek Mosselbaai besoek om met verskeie rolspelers oor 'n konsepprogram vir die komende dorpsfees te besin.
Benewens die Makietie, behels die prys vir die Kwêla Dorp van die Jaar-toekenning dat Mosselbaai lugtyd ter waarde van R1 miljoen op kykNET ontvang. Die Kwêla-span sal die reklame-insetsel maak wat op tydgleuwe, waarop ooreengekom is, uitgesaai sal word.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'