MOSSELBAAI NUUS - Mosselbaai het die afgelope naweek Johnny Davids, die TV-aanbieder, sport-kommentator, liedjieskrywer, sanger en nou ook skrywer, as eregas van die ATKV Langsous-tak verwelkom. Davids het sy lewensverhaal, Boytjie, bekendgestel.
Die program het op Vrydag 29 Augustus by Ridgeview Primêr afgeskop, waar Davids en sy musiekvervaardiger en vriend, Jean-Marc Meyer, die verhoog gedeel het.
Meyer is onlangs by die Afri-Indie-musiek-toekennings as die beste vervaardiger in Suid-Afrika bekroon.
Die boek, wat vinnig in Suid-Afrika en Namibië 'n topverkoper geword het, vertel die inspirerende verhaal van Davids se lewe, sy uitdagings en sy besluit om nie deur sy omstandighede vasgevang te bly nie.
Davids het die titel Boytjie gekies omdat dit die bynaam was waarmee hy as jongman in sy gemeenskap bekendgestaan het, 'n naam wat sy wortels weerspieël en sy reis van groei en oorwinning simboliseer.
Davids het op die Kaapse Vlaktes grootgeword. "Ek het gekies om nie 'n slagoffer te wees nie, maar 'n oorwinnaar," het hy aan Hoërskool Garden Route se jongspan vertel.
Die gehoor is bederf met 'n miniproduksie van Boytjie, wat deur musiek en woord 'n verhaal van hoop, versoening, liefde en vergifnis vertel het.
Op Saterdag 30 Augustus het Davids en sy vrou, Liezel, 'n gesprek met die publiek en nog leerders van Hoërskool Garden Route gevoer.
Liezel het die gesprek gelei, en Johnny het openhartig oor die skryf van sy boek, sy ervaringe, uitdagings en lewenslesse vertel.
Hy het die leerders aangemoedig om hard te werk, hul drome ernstig op te neem en nooit op te gee nie.
Davids is bekend as aanbieder van die kykNET-program Kwêla, Super Rugby, Ysters op die landgoed, Landbouweekliks, en as senior Afrikaanse krieketkommentator op SuperSport.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’