MOSSELBAAI NUUS - Riska du Plessis se Ingrid Jonker-geïnspireerde liedjie "Swart vlinders" is onlangs in die vorm van 'n musiekvideo bekendgestel.
Du Plessis, 'n Danabaaier, sê sy het dié liedjie reeds in 2017 geskryf en ook al verskeie kere tydens optredes gesing, maar dit is vanjaar eers amptelik opgeneem.
Sy sê die lied gaan voort met die gesprek wat Jonker in haar bekende gedig, "As jy weer skryf", begin het en fokus op wat ná die verlore liefde volg - die genesing, nuwe liefde en die moed om weer te begin.
"Hierdie lied is vir mense, veral vroue, wat deur verlies en hartseer moet werk en weer nuwe moed vir die lewe vind," sê Du Plessis.
Die musiekvideo is in 'n Mosselbaai-koffiewinkel deur haar man, Carel, verfilm. Die lied word in die video deur van Riska se vriendinne vertolk, 'n uitbeelding van wat elke vrou met haar saamdra. "Hartseer is iets wat niemand vryspring nie," verduidelik Riska, "maar wanneer ons dit as vroue saam dra en deursien, is dit ligter en makliker om te verwerk."
Daar was nie 'n spesifieke gebeurtenis wat aanleiding tot "Swart vlinders" gegee het nie, vertel sy. "Ek het van kleintyd af 'n liefde vir digkuns en woorde, en is deur Ingrid se gedig geïnspireer. Ek kan wel goed met die tema identifiseer. Wie ken nie verlies nie? Ons almal het op 'n manier iewers iets of iemand verloor, en dit is maar 'n seer proses en 'n oorbegin om daardeur te kom."
Riska skryf en sing al liedjies vandat sy 11 jaar oud is en sê sy kan nie haar lewe daarsonder indink nie. "Ek het nóg liedjies oor die jare bekendgestel, en is maar nog altyd in bands gewees of was betrokke by musiek/musikante, maar sal graag in die komende maande meer liedjies (in Afrikaans en Engels) bekend wil stel.
"Ek skryf meestal uit werklike gebeure of emosies. Dit is vir my 'n hanteringstrategie; om die soms moeilike werklikheid te verwerk. Ek begin gewoonlik by woorde en skryf ook gedigte - ek het in April 'n digjoernaal bekendgestel wat by verkeie plekke in en om Mosselbaai beskikbaar is.
"Die musiek of 'n melodie volg dan kort daarna. My man is 'n groot deel van my kreatiewe proses in verband met die liedjies en is my ondersteuning. Ek sing vir hom meestal alles voor ek dit optree of opneem.
"Ek glo dit is 'n gawe, en soos met alle gawes kies ons maar om dit te slyp of nie. Dit het my lank geneem om die moed bymekaar te skraap om dit wel voltyds uit te leef. Ek skep onder RiskArt, want soms moet ons die risiko neem, al lyk ons stupid vir ons familie en vriende, al maak ons foute.
"Dit gaan nie oor hulle nie, maar oor wat binne-in ons gebeur wanneer ons onsself toestemming gee om te skep en ons uniekheid te omhels - dit maak iets binne-in jou los en veroorsaak 'n uitkringeffek in die mense om ons. Partykeer staan jy in jou eie pad."
"Swart vlinders" is deur Wesley West opgeneem en vervaardig en is op alle digitale platforms beskikbaar. Klik op hierdie skakel vir die YouTube-video: https://www.youtube.com/watch?v=Q_Yc6-lYssw
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’