Gallery Video
MOSSELBAAI NUUS EN VIDEO - Katrina October (37), ma van die negejarige Jason Nomdo kon nie tot rus kom nadat haar kind op Maandag, 11 Oktober reeds vyf dae vermis was nie.
Jason is laas op Woensdag, 6 Oktober lewend gesien toe hy tydens die skoolvakansie met sy bal op Diasstrand gespeel het. Die bal het glo in die water beland en Jason is agterna. Hy kon nie swem nie.
'n Grootskaalse soektog het niks opgelewer nie, en soos enige ma sou, het Katrina bly hoop dat sy haar kind lewend sal vind.
Haar hoop het egter met tyd begin vervaag.
VIDEO: Verskaf deur Schalk Van Bosch
Ma ontdek liggaam
Uit radeloosheid en desperaatheid het Katrina op Maandag, 11 Oktober wéér strandlangs gestap, met die hoop op 'n teken van haar kind.
Hierdie keer het sy Jason se 17-jarige suster, Phasonique en die gesin se geliefde hond, Bella saamgevat. Hulle het amper tot in Hartenbos en weer terug gestap. Die see was glimmend soos 'n blou waaier vol blinkers, maar daar was steeds geen teken van Jason nie.
Katrina was moeg. Sy het die bult langs die rotse neffens Louis Fourieweg in die rigting van Uitbreiding 8, waar die gesin woon, stadig saam met Bella begin uitstap. Dit was ongeveer 13:30. Sy het haar vir 'n oomblik verbeel sy sien iets uit die hoek van haar oog. Toe sy weer kyk, net om seker te maak, sien sy dit - die liggaam van 'n kind, uitgespoel tussen die rotse.
Katrina het histeries geraak toe Phasonique na die liggaam hardloop en haar ergste vrees bevestig, Dit was Jason wat daar lê. Bella was altyd baie beskermend oor Jason en het dadelik by sy liggaam gaan waak.
Katrina October hier met die gesin se hond, Bella. Bella het saam met Katrina langs die strand gestap toe sy die liggaam van haar seun, Jason Nomdo ontdek het. Bella was baie beskermend oor Jason en het by sy liggaam gewaak.
Ma en dogter het 'n groen kombers wat hulle saamgedra het oor sy liggaam gegooi. Sy pa, Danzil het Jason se liggaam later met 'n geel kombers toegegooi.
"Aan die een kant is ek bly ek het hom self gevind, maar dit is nie lekker om te sien hoe jou kind daar lê nie," het Katrina die afgelope week aan die Mossel Bay Advertiser gesê.
Familie en vriende van Jason Nomdo (9) het op Woensdag, 13 Oktober laatmiddag op die rotse by Diasstrand waar sy liggaam gevind is bymekaar gekom.
Maatjies rou
Die gesin is onsteld omdat mense wat die strandgebied skoongemaak het en na wie hulle om hulp geroep het, na bewering videos van Jason se liggaam op sosiale media versprei het.
"Dit is vir my bitter," sê Katrina.
Jason was 'n graad 3-leerder aan Diaz Primêre Skool. Sy juffrou, Eveline Cilliers sê hy was 'n stil en gehoorsame kind. Die maatjies het almal baie van Jason gehou.
Die skool, onder leiding van skoolhoof, Genevieve Muller het berading vir alle grondslagfaseleerders en onderwysers gereël.
"Dit was baie hartseer om sy leë tafel te sien," sê Cilliers.
As eerbetoon aan Jason, hang die skool se vlae halfstok en 'n minuut van stilte is die afgelope week vir hom gehou.
Katrina het twee dogters, onderskeidelik 17 en 21 jaar oud. Jason was haar laatlam. "Hy was 'n lieflike kind. Hy was mal oor die see. Sy bal is nog steeds weg."
Jason se pa woon ook op Mosselbaai. Jason en Bella het gereeld by hom gaan kuier.
Begrafnisreëlings is teen die ter perse gaan nog nie bevestig nie.
Juffrou Eveline Cilliers, Jason Nomdo se juffrou sê baie van sy maatjies het hom gaan help soek. Langs haar is mnr Anton Siebert by die kaartjies wat Jason se klasmaats vir hom gemaak het. Siebert het ook in die soektog na Jason gehelp.
VORIGE ARTIKELS:
'We bring you the latest Mossel Bay, Garden Route news'