MOSSELBAAI NUUS - Die ontwikkeling van sowat 7 400 behuisingseenhede en ander fasiliteite oorkant Louis Fourieweg in die Heiderand-gebied word oor 'n periode van 10 tot 20 jaar beoog.
Dié ontwikkeling, genaamd die Louis Fourie-korridorprojek, is "'n strategiese inisiatief deur die Mosselbaai-munisipaliteit vir 'n geïntegreerde en gemengde grondgebruikontwikkeling geleë tussen Heiderand, Pinnacle Point, Paradise Coast en KwaNonqaba," het die munisipaliteit in sy jongste nuusbrief gesê.
Daar is tans 'n openbare deelnameproses onderweg weens verskeie aansoeke wat die munisipaliteit moet indien.
Dit sluit in aansoeke vir omgewingsmagtiging, 'n watergebruiklisensie, 'n erfenispermit en stadsbeplanningsmagtiging.
Die ontwikkeling sal oor verskeie erwe suid van Louis Fourieweg, tussen die Louis Fourie-/Floraweg-kruising en die Louis Fourie-/Essenhoutstraat-kruising plaasvind, en sal ongeveer 450 ha beslaan.
Die munisipaliteit sê die projek sal uit die volgende bestaan:
• Min of meer 7 410 behuisingsgeleenthede, insluitende lae- tot hoë-inkomste-opsies, van woonstelle tot alleenstaande huise; en verhurings- of eienaarskapopsies wat ook aftreeoorde insluit
• Ongeveer 100 000m² se vloerruimte vir kommersiële geleenthede
• Sosiale fasiliteite: vier skole, ses kerke, ses kleuterskole, 'n hospitaal, ruimte vir gebruike soos klinieke, ens.
• Munisipale gebruike soos gemeenskapsale, 'n biblioteek, munisipale kantore,
'n brandweerstasie, ens.
• Oop ruimtes: 'n ruim bewaringsgebied, asook 'n groot gemeenskapspark, en sportfasiliteite
• Munisipale infrastruktuur soos paaie, 'n stormwateraanleg, en water-, krag- en rioolnetwerke.
Die openbare deelname word in drie fases gedoen.
Die eerste fase is in November begin, toe belanghebbendes geregistreer is. Kennisgewings vir die huidige fase is aan aangrensende eienaars gestuur, in die Mossel Bay Advertiser geplaas en op 28 Maart op die terrein self aangebring.
Die munisipaliteit beoog ook om vanaf 7 tot 10 April vergaderings met die publiek te hou.
Die skedule is soos volg:
• Danabaai-gemeenskapsaal: 7 April, 18:00
• Asla-gemeenskapsaal: 8 April, 18:00
• KwaNonqaba-gemeenskapsaal: 9 April, 18:00
• Mosselbaai-stadsaal: 10 April, 18:00
Die volgende stappe, sê die munisipaliteit, behels die finalisering van die grond-gebruikaansoek en die verkryging van alle nodige permitte, insluitende omgewings- en erfenismagtigings. Die implementering daarvan sal in fases uitgevoer word.
"Namate die konstruksie begin, sal deurlopende konsultasies en gefaseerde ontwikkeling verseker dat infrastruktuuropgraderings en stedelike dienste saam met behuising- en besigheidsgeleenthede gelewer word," sê die munisipaliteit.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’