MOSSELBAAI NUUS - Raynier Claassen, 14-jarige leerder en gerekende skaakspeler aan die Hoërskool Punt, is vandag, Donderdag 26 September, deur die Mosselbaai-munisipaliteit met 'n spesiale eerbewys vereer.
Die sertifikaat is deur sy ma, Genévieve Heunis, namens hom afgehaal.
Raynier sal Suid-Afrika van 23 Oktober tot 12 November in Brasilië verteenwoordig gedurende 'n internasionale byeenkoms. Hy speel skaak sedert graad-3 en behoort aan die Mosselbaai Skaakklub. Hy is die enigste speler in die Tuinroete, wat gekies is om Suid-Afrika in Brasilië te verteenwoordig.
Raynier het al nasionale erkenning gekry oor hoe goed hy skaak speel. In 2019, toe hy nog nét in graad 3 was, behaal hy 'n tweede plek in 'n toernooi gedurende die Knysna Oesterfees.
Nou beklee Raynier die eerste posisie in Afrika vir spelers jonger as 14. Hy beklee ook eerste plek in die Wes-Kaap en is tweede op die ranglys in Suid-Afrika.
Verder het hy die titel van Meester in Afrika by die Jeugbyeenkoms verower, wat deur die Internasionale Skaakfederasie aan hom toegeken is.
Die munisipaliteit beskou Raynier se prestasies as genoegsaam om die raad se lofprysingsertifikaat te ontvang.
Maar om in die buiteland te gaan meeding, is nie goedkoop nie. Raynier se familie het verskeie fondsinsamelings van stapel gestuur om die nodige fondse te bekom, insluitend donasies en 'n komende "Old School Party Spring Dance", wat op 4 Oktober by die Mosselbaai Stadsaal sal plaasvind. Die toegangsfooi is R50 en begin 20:00.
Sy onkoste beloop R81 000, en sluit in R40 000 (vlugte), R36 000 (verblyf) en R5 000 (etes).
Indien daar iemand is wat bereid is om Raynier te help om sy talent met die wêreld te deel, kan Genévieve Heunis by 061 738 5183 gekontak word.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’