MOSSELBAAI NUUS EN VIDEO - 'n Mosselbaaise siggestremde vrou het geskiedenis gemaak vir die toegangsregte van mense wat bygestaan word deur gids-, diens- of ondersteuningshonde. Die gelykheidshof in Kaapstad het verlede Woensdag, 17 Oktober 'n aansoek van die Suid-Afrikaanse Vereniging vir Gidshonde aangehoor waarin toegang vir een van sy gidshonde bepleit is.
Dit volg nadat Amanda Bester en haar gidshond, Reo in Augustus 2017 toegang geweier is tot die kantoor van binnelandse sake op Mosselbaai. (Siggestremde en hond die deur gewys, Mossel Bay Advertiser, 25 August 2017).
Baanbrekersaak
Bester, soos voorheen berig, is op 17 Augustus toegang tot die kantore van binnelandse sake by die Thusong-sentrum geweier en is slegs toegang tot die kantore verleen sonder haar gidshond.
"Die essensiële vrae wat voor die hof gedien het, is of daar teen Bester gediskrimineer is op grond van haar gestremdheid en, indien wel, of hierdie diskriminasie onregverdig was," verduidelik Deirdre Venter, 'n vennoot aan Shepstone en Wylie Prokureurs wat die Suid-Afrikaanse Vereniging vir Gidshonde in die hof verteenwoordig het.
Eerste keer
Dit is die eerste keer dat die gelykheidshof 'n saak aanhoor wat daaruit spruit dat daar teen mense gediskrimineer is omdat hulle van gids-, diens- of ondersteuningshonde gebruik maak, aldus Pieter van Niekerk, hoof-skakelbeampte van die Suid-Afrikaanse Vereniging vir Gidshonde.
"Die vereniging tree op in die openbare belang, sowel as in die belang van mense wat gestremd is en wat kies om 'n gidshond, dienshond of 'n outimse-ondersteuningshond te gebruik om hulle te help om hul daaglikse aktiwiteite te verrig."
Volgens Van Niekerk is die saak van groot belang wat betref die ontwikkeling van die Wet op Diskriminasie teen persone met gestremdhede, veral vir diegene wat van die ondersteuning van diere gebruik maak.
Kyk 'n video hieronder.
"Die verhoor het 'n volle hofdag in beslag geneem en is aangehoor deur regter Saldahna. Die verhoor is gekenmerk deur 'n robuuste debat tussen die regter en die regsverteenwoordigers. Hoewel die uitkoms van hofsake onvoorspelbaar is, is ons vol vertroue dat ons 'n sterk saak voor die hof gebring het en ons verwag 'n positiewe uitkoms," het Deirdre Venter by navraag aan die Mossel Bay Advertiser gesê.
Media maak impak
Nadat Amanda Bester verlede jaar 'n bloutjie geloop het by binnelandse sake, is sy tydens 'n oproep aan die Suid-Afrikaanse Vereniging vir Gidshonde aangeraai om haar storie in die plaaslike media bekend te maak. Sy het haar storie met die Mossel Bay Advertiser gedeel en die artikel is as deel van die bewyslas in die saak tussen dié vereniging en die minister van binnelandse sake voorgelê.
Volgens Amanda kry die vereniging gereeld te doen met klagtes van hulle lede aangaande toegang tot persele. "Die prokureur, Deirdre Venter, het al opgetree as puppy raiser vir die vereniging. Toe sy glo tydens 'n geleentheid van die vereniging se skakelbeampte verneem oor hierdie toegangsklagtes, het sy haar hulp aangebied."
Toe navrae aangaande die klagtes gedoen is, is daar besluit om op Amanda se storie te fokus as gevallestudie. Vandaar het dinge vinnig momentum gekry.
Amanda en haar hond, Reo het die hofverrigtinge verlede week bygewoon, maar is nie geroep om te getuig nie. Haar verklaring het wel voor die hof gedien.
Uitkoms
Na afloop van verlede jaar se gebeure, het Amanda verwag dat sy ook op ander plekke toegang geweier sou word. "Na daardie insident moes ek intussen twee keer weer binnelandse sake toe gaan, maar ek het Reo by die huis gelos. Ek het nie gevoel ek kan dit waag om hom saam te vat nie."
Vir ander gestremdes wil sy hê dat hierdie hofsaak deure moet oopmaak. "Reo is deel van my. Soos wanneer jy in 'n rolstoel rondbeweeg.
"As jy nie jou gidshond by jou het nie, moet jy aan iemand se arm hang. Kort-kort loop jy in iets of iemand vas, want hulle is nie gewoond daaraan om jou te lei nie."
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'