Video
MOSSELBAAI NUUS EN VIDEO - Toe hulle die geveerde lyfie oor die muur sien vlieg, het ’n Fraaiuitsig-gesin gedink die dae van kopkrappies en kiekeboe vir hul kokketiel, Shakira, is verby.
Met die hulp van sosiale media en besorgde inwoners, het daardie kommer egter darem net vir sowat ’n halfuur geduur.
“Toe ons haar hier oor die balkon sien vlieg, toe sien ek sommer hoe verlaat my kind se siel haar lyf,” het Sustien Purves half laggend gesê ná Shakira weer veilig tuis was.
Dié geliefde kokketiel is al sedert 2019, toe Purves se jongste dogter, Liané Nieuwoudt (11), haar gekry het, deel van die gesin. Buiten Shakira, is daar ook Einstein die African Grey, Coco die sonparkiet (sun conure), Kiki die labrador en Daisy die Pekinees in hierdie huis vol twee- en viervoetiges.
Purves sê hulle was die betrokke dag besig om ’n potjie saam met familie te maak. Sy sit gewoonlik vir die voëls krummeltjies op die tafel om te eet, en dit is toe hier waar ’n vinnige handbeweging van Purves se man, Paul, Shakira laat skrik het.
Shakira die kokketiel. Foto: Linzetta Calitz
“Met die wat hy sy arm uitstoot om sy drankie op te tel, toe skrik sy. Sy is oor die balkon, laag gevlieg, en ek was soos, ‘Land, land, land!’” sê Sustien.
Maar Shakira is toe oor die muur, én oor pad, én oor die karre. Hulle woon oorkant die Pick n Pay-sentrum in Fraaiuitsig, met die bedrywige Impalastraat wat hul woning en die sentrum skei; Shakira het by die afdraai na die sentrum te lande kom.
VIDEO: Só kiekeboe en dans Shakira
Video: Linzetta Calitz
Sustien en haar familie het van die balkon af mense se aandag probeer kry, maar tevergeefs. Paul spring toe is sy bakkie en ry na waar sy geland het, maar teen daardie tyd was sy reeds weg. Hier het mense wat die petalje aanskou het, vir hom gesê ’n vrou in ’n swart Polo het die kokketiel opgetel, maar van haar was daar ook geen teken nie. Sustien maak toe soos enige besorgde diere-eienaar en wend haar tot Facebook- en WhatsApp-groepe. Daar het ’n inwoner haar gelukkig na Shakira se redder verwys, en hulle is onmiddellik daarheen om haar te gaan haal. Sustien sê hulle is baie dankbaar vir die persoon.
Liané en Sustien vertroetel vir Shakira terwyl Paul toekyk. Foto: Linzetta Calitz
Hoewel Shakira se vlerke reeds voor die avontuur geknip was, sê Sustien hulle het dit maar weer effens geknip net om veilig te wees. Verder is Shakira haar ou dansende, singende self, met g’n blywende teken van haar ekskursie nie.
Mieke en Coco. Foto: Linzetta Calitz
Liané en Daisy. Foto: Linzetta Calitz
Kiki die labrador. Foto: Linzetta Calitz
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’