Update
MOSSELBAAI NUUS - 'n 45-jarige sakeman van Mosselbaai, André Boshoff het op Woensdag, 11 Oktober, sy eerste verskyning in die Mosselbaai-landdroshof op aanklagte van bedrog van duisende rand gemaak.
Boshoff het glo die afgelope paar maande verskeie deposito's vir sonpanele of wisselrigtings ontvang, maar nooit die werk gedoen nie.
Die meeste van sy klante is bejaarde inwoners.
Verskeie van die slagoffers het aan die Mossel Bay Advertiser gesê dat hulle deposito's aan die verdagte betaal het, maar dat geen dienste gelewer is nie. Die klante sê Boshoff het telkemale beloftes gemaak maar nooit by sy woord gehou nie.
Polisiewoordvoerder, ao Kappie Kapp, sê die klaers het na bewering tussen R85 000 en R39 000 betaal.
Kapp sê minstens sewe aanklagte is by verskeie polisiestasies op Mosselbaai teen die verdagte aanhangig gemaak.
Boshoff is op borgtog van 'n onbekende bedrag vrygelaat en die saak is uitgestel tot 3 November.
Vorige artikel: Besigheidsman in hof vir bedrogaanklagte
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’