MOSSELBAAI NUUS - Seksdade met bejaarde vroue in 'n fasiliteit op Hartenbos wat spesialiseer in die versorging van pasiënte met Alzheimer se siekte het die afgelope week skokgolwe deur die gemeenskap gestuur.
'n Ses-en-dertig-jarige man het gister, Donderdag 17 September, vir 'n tweede keer in die Mosselbaai-landdroshof verskyn nadat hy in verband met dié gruwelike dade in hegtenis geneem is.
Die verdagte se identiteit is aan die Mossel Bay Advertiser bekend, maar mag volgens wetgewing nie aan die publiek bekend gemaak word voordat hy teen die aanklagte teen hom gepleit het nie.
Die verdagte verskyn op Maandag, 21 September weer in die hof om formeel om borgtog aansoek te doen.
Hy staar reeds bykans 12 aanklagte wat insluit die besit van kinderpornografie, seksuele aanranding en verkragting, in die gesig.
Personeel geskok
Intussen, kom die personeel en eienaar van die fasiliteit in Aalwyndal, Adler's Nest steeds tot verhaal na die skokkende gebeure.
Eienaar, Hein Marx het die verdagte ongeveer ses maande terug aangestel om hom te help om op sy voete te kom.
Die verdagte het 'n span werkers op die perseel met bou- en onderhoudswerk op die terrein gehelp.
Marx het van die verdagte te hore gekom by sy vennoot, Danie Steyn. Steyn het glo deur kennisse van Hermanus van die verdagte verneem. Volgens hulle, was die verdagte op daardie tydstip 'n werklose man vir wie hulle gereeld kos moes gee.
"Ek wou hom help, soos ek al vantevore werklose mense probeer help het. Ek het vir hom 'n blyplek gegee, wég van die fasiliteit. Hy het drie etes per dag gekry, asook 'n salaris. Dit was uitdruklik aan hom gestel, verskeie kere, dat hy nie die perseel binne Alder's Nest mag betree nie en slegs buite mag werk."
Die skokkende gebeure het aan die lig gekom nadat 'n 76-jarige inwoner van Adler's Nest by die personeel gekla het dat 'n man hom buite haar kamervenster aan haar ontbloot het.
Die slagoffer is nie mobiel nie en moet deur versorgers verskuif word van haar bed na 'n stoel in die kamer. Sy het glo op 'n stoel in haar kamer gesit toe die voorval gebeur het.
Die bestuurder van die fasiliteit het onmiddelik ondersoek ingestel en navrae aan inwoners en personeel gerig. "Nog voordat ons deur enige beeldmateriaal gegaan, of geweet het van die ander voorval, het ek die verdagte ingeroep. Ons het vir hom gesê ons gaan die polisie bel," sê Marx.
Beeldmateriaal
Marx en sy bestuurder het saam met die polisie deur beeldmateriaal gegaan wat afkomstig is van 36 kameras wat op die perseel geïnstalleer is.
Hulle het toe op gruwelike bewyse van 'n voorval wat in 'n 96-jarige inwoner se kamer gebeur het, afgekom.
Die Da Gamaskop-polisie was op die toneel nog voordat Marx-hulle na die beeldmateriaal gekyk het.
Die polisie het dadelik op die verdagte se selfoon wat in sy kamer was beslag gelê. Niks kon hulle egter voorberei op die eksplisiete kinderpornogafie wat op die foon gestoor was nie. Die inhoud sluit verskeie foto's van dieselfde dogtertjie, asook 'n video, in.
Vertroue geskend
Marx sê sy vertroue in mense is na dese vir ewig geskend. "Ek sal nooit weer iemand help deur vir hom werk aan te bied nie. Ons het hom van dag een af belet om binne die fasiliteit te kom en hy het dit nietemin oortree. Ons het dadelik die polisie gebel en dadelik met die slagoffers se families in verbinding getree. Al waarvoor ek dankbaar is, is dat God 'n muur in die vorm van my en Danie voor die verdagte gesit het, sodat hy op hierdie manier dan uiteindelik vasgetrek en sy dade bekend gemaak kon word."
Marx sê hy kom steeds tot verhaal na die gebeure en sukkel om daarvan sin te maak.
"Ek het in ses maande niks vreemds by hom opgemerk nie. Ek probeer dink of daar tekens was, maar daar was nie."
Marx is vol lof vir die Da Gamaskop-polisie se optrede, asook die wyse waarop die ondersoekbeampte in die saak, ao Alistair Rezant die saak deurgaans hanteer.
Adjudant-offisier Rezant is verbonde aan die polisie se eenheid vir gesinsgeweld, kinderbeskerming en seksuele misdrywe. "Die brigadier het ook met ons in verbinding getree. Die polisie se spoedige en flink asook professionele optrede het ons regtig beïndruk."
Die voorportaal van Adler's Nest.
Die ondersoekbeampte in die saak, ao Alistair Rezant.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'