MOSSELBAAI NUUS - Vir 'n beter verjaarsdaggeskenk as die bekendstelling van haar eie liedjie kon Chriszelda Botha, ofte wel Hazel Stone, nie gevra het nie.
Botha, wat onder die verhoognaam Hazel Stone optree, sing al vir die afgelope 32 jaar dekliedjies, maar het die afgelope paar maande sommer ágt van haar eie geskryf.
Een daarvan, "Liefde op die dansvloer", word op 22 Desember (ook haar verjaarsdag) op Spotify en ander platforms bekendgestel.
Sy is in 1986 in die destydse Port Elizabeth gebore, maar het haar laer- en hoërskooljare in Hartenbos en Oudtshoorn voltooi. Sy woon sedert 2022 weer permanent in Mosselbaai.
"Ek is deur 'n aaklige egskeiding wat vir vier en 'n halwe jaar geduur het; al wat ek kan sê is ek het sterker anderkant uitgekom. My kêrel, nou my verloofde, Kevin Nevill, was die dryfkrag en rede vir die songs.
"Omdat ek nie geweet het wat liefde en respek is nie, het hy my en my drie kinders opgetel en gewys wat dit is om in 'n gelukkige huishouding te wees. 'Liefde op die dansvloer' is die eerste song wat ek vir Kevin geskryf het. Hy het saam met my deur alles gestap en gestaan, en is steeds by ons."
Hazel Stone is eers in 2021 'gebore', maar Botha was al op driejarige ouderdom gemaklik op die verhoog.
"My ouers het my en my sussie na 'n vertoning van Francois Hayes geneem. Terwyl hy gesing het, het ek op die verhoog gestap en my ouers kon my nie weer daar afkry nie - dáár het my liefde vir musiek begin."
Intussen het sy gospel- en countryalbums bekendgestel, maar nooit met haar eie liedjies nie. "Kyk, ek kon nooit skryf nie. Ná my egskeiding en al die hofsake het dit my net skielik oornag oorval.
"Ek en Kevin het met die kinders op die strand gaan stap, en toe kan ek nie vinnig genoeg na 'n foon gryp om die woorde in my kop te record nie.
"Ek sal nie sê skryf is my groot liefde nie, eerder sing, maar alles is so duur, so dan moet mens maar self skryf. Maar ek dink eerlikwaar al die seer en trauma wat ek deur is het gehelp met al die emosie in die liedjies."
Sy verduidelik ook waar die naam Hazel Stone vandaan kom: "Ek het nog al die jare onder Chriszelda Botha gesing, maar dit het nooit enige aftrek gekry nie, toe vra een van my kunstenaarsvriende eendag vir my: 'Hoekom kry jy nie vir jou 'n stage-naam nie?'"
Ná hulle toe so 'n bietjie lewensbesonderhede uitgeruil het, het hy die naam Hazel Stone aanbeveel.
"Sien, ek het bruin bokkie-oë en is mal oor sjokolades met haselneute, en ná alles waardeur ek met my egskeiding en die abuse is, het dit my so sterk soos 'n klip gemaak. So Hazel Stone is op 26 April 2021 gebore, en ek dink ná 'Liefde op die dansvloer' gaan sy baie goed vir haarself in die musiekbedryf doen," sê Botha.
Sy sê krediet vir die liedjie se produksie gaan aan Jade Storm van Storm Music Productions. "En seker my verloofde wat my inspirasie en steunpilaar is, asook my drie kinders."
Hazel Stone se tweede liedjie word vroeg volgende jaar bekendgestel.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’